Party van ons geniet ’n glasie wyn of ander drankie om te ontspan of saam met ’n smaaklike bord kos te geniet. Maar die Hollywood-ster Chrissy Teigen het agtergekom vir haar het dit ’n probleem geword.
In ’n onderhoud met die tydskrif Cosmopolitan erken sy sy het die afgelope paar maande net te veel begin drink. Sy kon nog nooit net by een drankie hou nie. Maar nie haar sangerman, John Legend, of vriende het haar ooit tereggewys nie.
“In my hart het ek geweet dis nie reg nie. Ek het begin bang word,” sê sy verder in die onderhoud.
Volgens Chrissy is daar ’n geskiedenis van alkoholmisbruik in haar familie.
“Ek voel sleg dat ek so ’n gek van myself én die mense wat ek regtig respekteer, gemaak het. Ek voel verskriklik! Dit stel nie vir my óf John in ’n goeie lig nie.”
Tydens ’n gesondheidswegbreek op Bali in Julie vanjaar het sy besluit om alkohol te los. Sy het ook gesonder begin eet en meer begin oefen. “Dit was regtig wonderlik. Ek het soveel gelukkiger gevoel.”
Sy probeer om liewer glad nie meer alkohol te gebruik nie.
“Ek het gedink dit sal gek wees om heeltemal alkoholvry te wees, maar nóú wil ek nie weer daardie persoon wees nie. Ek moet myself regruk.”
Volgens prof. Charles Parry, hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) se navorsingseenheid oor alkohol, tabak en ander dwelms, het alkohol só ’n negatiewe effek op jou lyf, dit oorheers verreweg die positiewe dinge. Só kan net twee drankies per dag jou risiko vir borskanker met sowat 20% verhoog. Vier drankies vergroot jou kans op kankers van die mond, slukderm en farinks met sowat 300% tot 600%.
Die effek op die hart en bloedvatstelsel is ’n tweesnydende swaard. Ja, dis goed vir sekere toestande, soos iskemiese hartsiekte en beroerte (dus siektes weens ’n obstruksie in die bloedvate). Maar verhoog die risiko vir ander, sê hy. Dis eenvoudig ’n feit: Alkohol veroorsaak fisieke en emosionele veranderinge wat baie skadelik vir jou lyf kan wees.
Dokters wêreldwyd waarsku jou teen die gevare van oormatig drink. Maar hoeveel is “te veel”? Die drankriglyne in 75 lande – insluitend Suid-Afrika – is in ’n studie geanaliseer. Eerstens was daar nie ooreenstemming oor wat die standaardgrootte van ’n alkoholiese drankie moet wees nie. Die meeste van die lande in die kollig het glad nie ’n riglyn nie. En onder die 37 lande wat wel het, wissel dit baie: tussen 8 gram (sowat 10 mℓ) en 20 gram (25 mℓ) suiwer alkohol per eenheid. Die gemiddeld is 10 g (sowat 13 mℓ) per eenheid – wat ooreenstem met die WGO se standaard. In SA is dit 11-12 g (14-15 mℓ) per eenheid. (Een eenheid in SA = 120 ml droë wyn/vonkelwyn; 340 ml-blikkie bier; 25 ml/1 sopie spiritualieë soos jenewer of brandewyn; en 80 ml of ’n derde bottel alkoholkoeler, soos Smirnoff Spin.)
Tweedens verskil aanbevelings oor hoeveel alkohol “veilig” is, selfs in lande waar die standaardgrootte min of meer dieselfde is. Prof. Parry is nie bewus van amptelike riglyne plaaslik nie. Vroue behoort egter nie meer as sowat 7 glase wyn (120 mℓ) of 7 biere (340 mℓ) per week te drink nie. En nie meer as 2½ eenhede per dag nie. Mans moet minder as 12 biere (340 mℓ) of die ekwivalent daarvan per week drink. En nie meer as 3 eenhede per dag nie.
’n Oormaat alkohol kan jou sentrale senuweestelsel aantas – en so ook jou spysverteringstelsel, bloedvatstelsel, skelet- en spierstelsel, jou seksuele en reproduktiewe gesondheid, immuunstelsel en uitskeidingstelsel. Dis ook sleg vir jou vel.
Lees in SARIE se Augustus-uitgawe meer oor hoe alkohol jou gesondheid affekteer. Klik hier vir die uitgawe.
The post Chrissy Teigen vertel van haar probleem appeared first on SARIE.