Deesdae is die aktrise Heléne Lombard weer te sien in verskillende flieks nadat sy vir ’n ruk effens uit die oog was – soos in Faan se trein, Ballade vir ’n enkeling, French Toast en die kykNET-reeks Pandjieswinkelstories.
Sy is bly dit het so uitgewerk dat sy rolle gekry het wat net klein genoeg is dat sy nie bekommerd hoef te wees oor haar “drie terroriste” nie, maar groot genoeg dat sy kan deel voel van ’n klomp baie lekker produksies, vertel sy. Om so te kan werk pas Heléne se leefstyl.
Hier volg ’n uittreksel uit die onderhoud met Heléne wat in ons Augustus-uitgawe verskyn.
Jy het die aandag getrek in Ballade vir ’n enkeling met jou vertolking van ’n verbitterde vrou wat nooit haar drome kon vervul nie. Dink jy dis ’n probleem waarvoor vroue nog vandag te staan kom?
Liebet het in swaar jare grootgeword. Dis nie net die grimering wat my daarin so oud laat lyk het nie, maar haar hele houding en lewensuitkyk. Die wêreld skuld haar iets en sy glo haar lewe is opgemors deur haar man en kind se probleme. Sommige mense het vir my gesê sy herinner hulle aan hul oumas. Baie van ons ken ’n ouer Afrikaanse vrou wat soos Liebet is. Hulle het moeilik grootgeword en in daardie jare kon vroue dikwels nie meer as ’n ma en vrou vir haar man wees nie.
Ek dink tog dinge lyk vandag baie anders vir vroue. Daar is soveel energieke jong mense wat nou nuwe dinge doen – in elke bedryf. Dít inspireer my. Maar ons het ook ons eie struikelblokke. Jare gelede het vroue na mekaar en die kinders omgesien as dit nodig was, maar deesdae ken mense nie eens hul bure nie. Gaan iemand weet as jy siek is tuis? Ons het nie meer daardie gevoel van gemeenskap nie, veral in Suid-Afrika waar ons hoë mure moet hê. Ons is geïsoleerd en ons wil ook nie vir mekaar vertel as dit dalk die dag sleg gaan nie. Ons moet altyd die sterk supervrou wees.

Heléne as Liebet Rynard in Ballade vir ‘n enkeling
FOTO: Balladefilm.co.za
Ly jy ook soms aan die supervrou-sindroom?
Ek het vir lank, en soms sukkel ek steeds daarmee. Ná Lucien se geboorte het ek gevoel ek het my identiteit verloor. Skielik neem moederskap jou lewe oor – voorheen het jy ’n suksesvolle loopbaan gehad en nou maak jy skielik net skoon en ruil doeke om. Ek het mysélf verloor en dit was ’n lang proses om weer by myself uit te kom.
Ek dink dit gebeur omdat vroue voel hulle moet alles vir almal wees; dat dit altyd moet lyk asof jy in beheer is en dinge goed gaan. Dis hoekom soveel vroue depressief raak ná hul kinders se geboorte, of sukkel met uitbranding. Hoekom praat ons nie daaroor nie? Dis nie ’n kompetisie nie, en as jy die dag jou mond oopmaak, dan gee mense tog om.
Lees die volledige onderhoud in die Augustus-uitgawe van SARIE.
Lees ook
The post Heléne Lombard: “Vrouwees is nie ’n kompetisie nie” appeared first on SARIE.