Die gewilde skrywer en SARIE-rubriekskrywer Marita van der Vyver se dogter het ’n roerende brief op haar Facebookblad geskryf ná die nuus van die aanval op feesgangers op Bastilledag in Nice bekend geraak het.
’n Man het met ’n vragmotor in die skare ingeploeg wat op die promenade gestaan en wag het vir ’n vuurwerkvertoning. Volgens The Guardian is daar reeds 84 mense, insluitende kinders, dood. Polisie het die man op die toneel doodgeskiet.

Marita en Mia
In haar brief op Facebook bevraagteken Mia Claisse, Marita van der Vyver se dogter, hoe die mensdom teenoor mekaar optree.
“Ek het myself hierdie vraag gevra: Hoe het ons mense wat onsself hoër ag as alle ander lewende wesens by ’n punt gekom waar die vrees vir andersoortigheid ons kan lei om mekaar dood te maak? Hoe is dit moontlik dat die mens eeue lank niks beter kan kry om te doen as om mekaar te vernietig nie, en dit net weens verskillende godsdiens- en politieke oortuigings. Jy sou dink dat ons sedert die laaste eeu reeds ’n oplossing hiervoor gevind het. Ons sou eindelik kon verstaan dat ons eenders is, selfs al dink ons verskillend. Maar nee. Dis te goed om waar te wees. Die mensdom sal homself, en terselfdertyd ook sy planeet, vernietig, en dit alles vir wat? Om te bewys wie van ons is die intelligentste? Al wat ek hierin sien, is dat daar ’n klomp wapens in onbesonne hande is. Hierdie mal wêreld maak my bang. In elk geval, al my gedagtes is by die slagoffers van Nice, en al die tragedies oral in die wêreld.”

Jan Hendrik van der Westhuizen FOTO Phyllis Green
Suid-Afrika se eerste Michelin-ster sjef, Jan Hendrik van der Westhuizen, het laat weet hy is tans in Kaapstad en dat al die personeel van sy restaurant, JAN, in Nice, veilig en ongedeerd is. Hy het in ’n vorige onderhoud met SARIE Kos oor Nice verduidelik dat dié stad baie soos Kaapstad is. “Daar is ’n baie ontspanne atmosfeer wat ons sjefs nie noodwendig voel nie. Maar op my afdag kry ek dit! Daar is beslis ’n ooreenkoms met Kaapstad, want daar is ook ’n berg en ’n see. Dit lig nogal mens se gemoed.” Maar ná gisteraand se gebeure in sy nuwe tuisstad het hy gesê: “Dis gek wat in Nice gebeur het!”
Gisteraand laat het die Franse president, François Hollande, die nasie toegespreek en gesê die Bastilledag-aanval het “al die elemente om ’n terroriste-aanval genoem te word” en dat dit “ongelooflike geweld” getoon het. Hy het bygevoeg: “Dit is duidelik ons moet alles in ons vermoë doen om hierdie terroristeplaag te beveg.”
Op sosiale media het daar kommentaar van die wêreld oor ingestroom. Wêreldleiers van China, Kanada en Amerika het die aanval verdoem en hul medelye uitgespreek met die slagoffers. President Barack Obama het in ’n verklaring gesê: “Namens die Amerikaanse mense veroordeel ek ten sterkste dit wat lyk soos ’n afgryslike terroriste-aanval in Nice, Frankryk, waarin dosyne onskuldige burgerlikes gedood en gewond is.”
FOTO’S van Nice
The post Marita se dogter oor Bastilledag-aanval appeared first on SARIE.