Vir jare al laat Casper de Vries gehore skater van die lag en nou is hy daarvoor vereer.
Casper is onlangs aangewys as die ontvanger van The Savanna Comic’s Choice Awards se 2016 Lifetime Achiever Award vir sy werk as komediant in Suid-Afrika. Casper se loopbaan strek oor drie dekades en hy het verskeie eenmanvertonings, TV-programme, kabaretoptredes, rolprente en kunsuitstallings op die kerfstok.
By die geleentheid waar die toekenning aan hom oorhandig is, het John Vlismas oor Casper gesê: “Die eerste keer dat ek Casper sien optree het, was ek nie seker wat hy gesê het nie, maar ek het geweet ek was besig om na iets briljants te kyk. Casper het baie nuwe komediante geïnspireer, en sy dapperheid en weiering om sy oortuigings prys te gee maak van hom ’n waardige Lifetime Achiever.”
Hoe voel dit om ’n Lifetime Achievement Award te kry vir jou werk as komediant?
Dit voel natuurlik wonderlik om ’n award te kry, veral as dit kom van ander komediante wat daaroor gestem het. Dit laat my nogal baie trots voel, want dit beteken my werk het ’n invloed gehad of ten minste dit wat ek doen, het respek afgedwing by ander comedians wat ek ook respekteer. Dis een groot liefdesfees op ’n manier. Ek voel baie happy daaroor.
Jy het in 2014 opgehou met eenmanvertonings. Wat doen jy nou?
Ek het vir ’n rukkie gestop met eenmanvertonings om te konsentreer op ander dinge. One man shows neem jou hele lewe in beslag. Dit gaan nie net daaroor om op ’n verhoog te klim nie. Omdat ek dit self produce, gaan dit oor die reël daarvan. Enige ding wat daarmee geassosieer word, jou hotelverblyf, die hele geselskap se reisreëlings, waar jy gaan adverteer, al daai dinge besluit ek. Ek is ’n perfeksionis en ’n bietjie van, wat is daai woord, ’n neuroot. Die reëlings neem baie tyd in beslag en baie van jou breinkrag. Ek wou net ’n bietjie rus. Ek het vir soveel jare geshow en dinge gesê en ek het gedink ek kan dinge op ’n ander manier probeer sê. Die radioprogram wat ek al twee jaar doen op Cliff Central is vir my verskriklik belangrik en dis verskriklik lekker om dit te doen. Dis soos ’n one man show vir twee uur lank. Painting het begin terwyl ek nog getoer het. Nou kan ek net meer tyd daaraan bestee. Om tegniek te leer, dis nie net een, twee, drie nie. Dit vat tyd.
Van watter tipe komedie hou jy?
Ek kan nie maklik geskok word nie. So, ek hou nogal van skokkende komedie en ek hou nogal daarvan om as ’n derde man dop te hou hoe party mense reageer op sulke komedie of humor, want dit lewer ook kommentaar op die samelewing. Ek hou van twisted, dark humour. Ek hou van humor wat ’n ondertoon het waarin daar kommentaar gelewer word, of wat parodie of satire is oor ’n situaie. Dis altyd vir my slim. Soos enige goeie kuns sien jy die boonste laag, maar ander sien die onderlaag raak. Maar jy kan steeds die boonste laag waardeer sonder dat jy besef daar is ’n onderlaag.
Is daar ’n komediant in die wêreld met wie jy graag sou wou optree?
Op die oomblik is mense soos Rickie Gervais en Tim Minchin vir my top-komediante en as daar iemand is met wie ek graag sou wou optree, is dit Tim Minchin van Australië. Hy is briljant. Ek sal dalk net ’n bietjie selfbewus voel as ek in dieselfde kamer as hy is, want hy is so slim.
Wie gaan almal optree by “The Grilling of Lifetime” waar jy vereer gaan word? Is jy ook deel van die vertoning?
Daar gaan komediante wees soos John Vlismas, Monique Nortje, Melt Sieberhagen, Mark Banks, Hannes Brummer en Schalk Bezuidenhout wat my gaan roast. Ek begin nou al oefen om volwassse doeke te dra, want ek is bang oor wat die mense aan my gaan doen. Maar terselfdertyd is ek mal oor roasting. Ek het self vir Steve Hofmeyr geroast. Dis ’n brutale, rou manier van komedie. Mens moet ’n hart van staal hê om dit te oorleef, maar ek het. Ek love dit.
Hou jy steeds van Abba se musiek?
Ek sal altyd van Abba hou. (Lag.) Ek is nog al die jare ’n groot fan. Ek het spesiaal Swede toe gegaan vir ’n park-optrede deur Benny, die een met die baard, en sy nuwe band. Hulle het baie Abba songs gespeel. Ek het daar gesit en nie geweet of ek moet huil of lag nie, want dit was so ’n fantastiese ervaring. Ek moet nog net vir Agnetha en Frida ontmoet, dan is my lewe voltooi.
Casper sal volgende week op 27 Julie vereer word by ’n spesiale geleentheid, “The Grilling of Lifetime”, by Parkers, Montecasino. Bewonderaars moet gou kaartjies bespreek sodat hulle nie hierdie ongelooflike aand misloop nie. Koop kaartjies hier by Computicket
The post Casper de Vries vereer vir sy werk as komediant appeared first on SARIE.