Vinkel en Koljander, Oupa en Ouma, Johan en Lida Botha. Die geliefde akteurspaar vermaak ons al vir byna ’n eeu lank – dis nou as jy die twee se onderskeie jare ervaring bymekaartel! – op televisie, die silwerdoek en die verhoog. En nou gaan hulle saam in kykNET se Kaapse sepie Suidooster verskyn.
Die afgelope paar maande het Johan ons bederf met die karakter van oom Fasie. Maar Johan het besluit om die sepie as permanente karakter te verlaat, hoewel hy steeds as gaskunstenaar sal verskyn. Hoe beter om dié hoofstuk af te eindig as saam met sy vrou van 44 jaar, Lida!
“Dit was ’n ongelooflike tyd op Suidooster. Ek het regtig lief geraak vir al die mense. En ek kan werklik sê dis die beste groep mense met wie ek al gewerk het. Ek is lief vir hulle,” vertel Johan aan SARIE.com.
Suidooster het spesiaal dié voorsmakie met ons gedeel:
Sy karakter (Fasie) kom iets verskrikliks oor in Oos Wes, sy restaurant, en moet daarna versorg word. Sy vriende besluit om die situasie in eie hande te neem en om Fasie se vervreemde suster, Hanna van Schalkwyk (Lida Botha), te kontak. Maar dinge is nie so eenvoudig nie …
Vir Johan was dit ’n voorreg om weer saam met Lida te speel.
“Ons speel al ’n geruime tyd saam. Maar met dié karakters kon ons met sterk dialoog en konfrontasies teenoor mekaar speel. Dit was wonderlik,” vertel Johan.
Die Botha-paartjie het verlede jaar vanaf die Weskus na De Rust in die Klein-Karoo verhuis.
“Ons geniet dit vreeslik baie. En het nou eintlik gehoop dat ons op ons oudag lekker heeltyd saam kan rondreis. Maar ons is nog altyd besig. As dit nie sy is wat werk kry nie, is dit ek. Ons is dankbaar. Maar ai, met die ouderdom raak mens mos maar lui,” lag Johan.
– Suidooster kuier vier dae per week in mense se huise. Maandae tot Donderdae 18:00 op kykNET (kanaal 144) en kykNET & KIE (145)
The post Bekende paartjie speel nou saam in sepie appeared first on SARIE.