Quinne Brown, op haar dag die vrolike kelnerin Connie in die SABC2-sepie 7de Laan, het ná tien jaar in Amerika huis toe gekom. Sy is enkellopend hier weg, maar nou is sy en haar man, Ryan, ’n watertegnoloog, en hul twee dogtertjies vir goed terug in Suid-Afrika. Daar wag allerlei nuwe werksdinge op haar en sy kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker dit is om terug te wees nie.
Quinne gaan nie sommer vir Jamie Oliver opdraend gee in die kombuis nie. “My man is eintlik die kreatiewe een wat kook en my met lekker geregte bederf, maar ek is baie gewillig om kos aanmekaar te slaan as dit moet …”
Sy deel twee van haar gunsteling-resepte:
Botterskorsie-sop
BESTANDDELE
• 1 groot botterskorsie
• olyfolie
• sout en peper
• borrie, komyn, vars gemmer
• 1 ui
• ’n paar wortels
• seldery
• 3 tot 5 koppies hoenderaftreksel, na gelang van die pot se grootte
METODE
• Verhit oond tot 180 °C.
• Sny die botterskorsie in die helfte. Dit is moeilikste deel van hierdie resep!
• Besprinkel met olyfolie en sout en peper en bak sowat anderhalfuur in warm oond, of tot sag.
• Intussen braai ek die komyn, borrie, nog sout en varsgemaalde peper en vars opgesnyde gemmer in olie in ’n pot. Voeg opgesnyde ui ná paar minute by. Sit deksel op en laat dit bietjie staan.
• Sny wortels en seldery en voeg dit saam met die hoenderaftreksel by die speserymengsel. Laat saggies kook tot botterskorsie sag is en voeg dit ook by. Ek scoop dit sommer uit die skil met ’n lepel, maar pasop, dis warm!
• Laat alles ’n paar minute lank saam kook.
• Verpulp dit tot baie egalig met ’n staafmenger.
• Proe en maak seker dit is sout genoeg. Voeg nog hoenderaftreksel by as dit te dik is.
“Ek hou daarvan om klappermelk as garnering by te voeg – dit maak die sop ook lekker romerig,” vertel Quinne.
En hoekom maak sy dit so graag? “Almal hou daarvan, dit is easy peasy, gesond en laat jou goed voel,” antwoord sy.
Smoothies is haar gunsteling vir oggend- of middag-peuselhappies, en soms vir nagereg.
“My beste maatjie, die TV-glansvrou en aktrise Kim Cloete, het destyds my lewe verryk met ’n menger (blender). Dis ’n ongelooflike stuk gereedskap vir iemand soos ek wat maar vashaak in kombuis. Ons maak roomys en sop, hoemoes, doopsouse, smoothies en sap daarmee.“
Chunky Money Smoothie
(Haar gunsteling-smoothie)
“Ek het dit by my skoonma geleer. Sy is formidabel in die kombuis, ’n passievolle kok en regte Italiaanse mama.’’
BESTANDDELE
• kakaopoeier
• grondboontjiebotter
• dadels
• amandelmelk/melk
• piesangs
• ys
METODE
• Vir een porsie, skep ’n lepel van elke bestanddeel en ’n koppie melk, een piesang, twee dadels (ontpit) en ’n halwe koppie ys in ’n menger (blender).
“Meng en voila! Ek gooi gereeld ’n hele hand vol spinasie of krulkool (kale) by vir ekstra heilsaamheid, want jy probeer mos maar altyd groen groente orals inwerk as jy kinders het.”
The post Quinne se botterskorsie-sop & poeding-smoothie appeared first on SARIE.