Om te dink aan ’n moontlike Oscar-benoeming (in die kategorie beste buitelandse rolprent) is byna ongehoord – maar Christia Visser, wat die hoofrol vertolk in die bekroonde rolprent Tess, sê dit kán mos net goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf beteken.
“Maar ek wil nog nie eintlik daaraan dink nie … kom ons wag eers en sien,” sê sy heel nugter.
Dié ontstellende rolprent gaan oor die harde, ongenaakbare lewe van sekswerkers en speel hoofsaaklik af in Muizenberg. Meg Rickards behartig die regie en Christia lewer ’n kragvertoning as ’n afgetakelde sekswerker wat vasbyt en die lewe aandurf ten spyte van haar benarde omstandighede.
Kyk die lokprent hier:
Dié fliek word vanaf 16 September ’n week lank by Cinema Nouveau V&A vertoon sodat dit moontlik kan kwalifiseer as die Oscar-benoeming uit die Suid-Afrikaanse stal.
Christia lag baie verleë as mens haar pols oor wat sy moontlik sou dra as sy op die rooi tapyt by die glansryke Oscars, tussen Hollywood se tiara- en Prada-kliek, sou land.
“Nee wat, ek is maar ’n op-die-nippertjie-mens. Kom ons kyk nader aan die tyd.”
Dan gee sy toe: ‘’O aarde, miskien swart en lank . . . dit is altyd veilig vir ’n eerste keer.’’
Sy is dol op hope rolprente, maar hou veral van Silver Linings Playbook en Avatar.
“Oe, daar is so baie, dit is al waaraan ek nou kan dink.”
En haar gunsteling-aktrise is Nicole Kideman.
“Ek het ‘verlief’ op haar geraak in Moulin Rouge … En ek is ook mal oor Jennifer Lawrence!”
Lees nou
Kyk wat het Victoria Beckham aangevang!
Christia in nuwe Grensoorlog-fliek
Is Christia Visser dalk ons nuwe Charlize?
The post Christia in swart by Oscars appeared first on SARIE.