Die kuns van rolprente word jaarliks oor ’n wye spektrum van toekenningsgeleenthede gevier. Ons weet van die algemene toekennings, ja, dié vir die sterre, die akteurs en aktrises.
Maar daar is ook geleenthede waar ander talentvolle kunstenaars bekroon word, mense sonder wie daar in die eerste plek nooit ʼn fliek sou wees nie: die kameraman, die rolprentfotograaf (cinematographer), die skrywer. Adam Bentel, ʼn Suid-Afrikaanse rolprentfotograaf wat al op TV-reekse soos Donkerland en Bloedbroers en die fliek Sy Klink Soos Lente gewerk het, is vanjaar vir die gesogte internasionale Camerimage Golden Frog-toekenning benoem vir sy werk in die rolprent Modder en Bloed. Die fees word jaarliks in Pole gehou en bekroon die beste rolprentfotograwe oor die wêreld heen. Slegs 13 rolprente word vir die hooffees gekies.

FOTO’S uit Modder en Bloed
Wat Adam se benoeming nog merkwaardiger maak, is die geselskap waarin hy hom bevind: Mel Gibson en Oliver Stone is maar net twee hoëprofiel-regisseurs teen wie se rolprente Adam se werk meeding. Die ander benoemings is vir rolprente met akteurs soos Nicole Kidman en Amy Adams in die rolverdeling. Dit is wêreldklasflieks, met miljoene dollars se begroting. Adam moes op suiwer talent staatmaak, want plaaslik is daar skaars R1 miljoen om ʼn fliek te maak. Die benoeming is iets besonders, buitengewoon en ʼn geweldige eer.
“Ek weet al vir ’n hele ruk van die kompetisie, vandat ek begin het met kinematografie (cinematography). Dit is die wêreld se grootste fees vir visuele filmwerk. Sommige rolprentfotograwe reken dit is selfs groter as die Oscars. Ek is op die fees se poslys en besluit toe oukei, ek gaan van my werk inskryf en kyk wat gebeur. Toe skryf ek Modder en Bloed in, onder die Engelse titel Blood and Glory, in die kategorie debuutfilms. Ek het dit toe daar gelos en daarvan vergeet. Vyf weke gelede het ek ʼn e-pos van die fees gekry wat my inlig ek is nie gekies om deel van die debuutfees te wees nie, maar ek is wel gekies om deel te wees van die hooffees. Vir tien dae het ek niemand behalwe my vrou, Jade, daarvan gesê nie. Ek kon dit nie glo nie. Ek het nie gedink dit is waar nie. Ek kon dit net nie glo nie,” vertel Adam.
“’n Paar dae later het Jade toe vir my gesê dit ís die waarheid. Dit is waar en ek kan dit maar vir mense vertel. Ek moes eers weer die fees-e-pos lees, net om seker te maak. Ek het toe vir hulle gevra of hulle seker is ek is benoem en deel van die fees. Hulle het my toe verseker dit is die waarheid. Ek is steeds in skok. Ek vlieg op 10 November Pole toe. Al my koste word betaal, die vlug én verblyf in ʼn vyfsterhotel. Mense soos Woody Allen gaan daar wees.”
Die 24ste Camerimage-fees is van 12 – 19 November in Bydgoszcz, Pole. Daar is reeds Oscar-buzz rondom die meeste van die ander benoemings. Wie weet, dalk sien ons volgende jaar nóg ’n Suid-Afrikaner met ’n goue beeldjie in die hand!

FOTO’S uit Modder en Bloed
Lees nou
Ons kuier saam by Rolanda Marais se babatee
Laudo Liebenberg se Karoo-troue
EKSKLUSIEF: Aktrise Christel van den Bergh se troue
The post Internasionale benoeming vir jong SA film-fotograaf Adam Bentel appeared first on SARIE.