Die reuse-tegnohandelskou CES (Consumer Electronics Show) in Las Vegas lewer elke jaar allerlei op waarna ons kan uitsien, maar op vanjaar s’n was daar veral ’n paar produkte wat ons aandag getrek het.
Nuwe borspomp
Die tech-wêreld word steeds oorheers deur mans, daarom is dit heerlik om produkte te sien wat vroue se lewe verbeter.
Willow is ’n koordvrye borspomp wat binne jou bra gedra word. Melk word geruisloos in ’n sakkie in die bra uitgepomp. Die pomp kom saam met ’n slimfoon-app wat jou help om kop te hou met jou baba se voeding deur uit te werk hoeveel melk jy uitpomp.
Maklike herwinning
Die Whirlpool Zera Food Recycler maak dit nou baie makliker om jou eie kompos te maak. Die drommetjie maak binne ’n week met die druk van ’n knoppie kompos van al jou kosreste.
Vir die kleingoed
Fisher-Price Smart Cycle sorg dat jou kind se liggaam en verstand geoefen word, al is die weer buitekant ook hoe goor. Die fiets meet fisieke aktiwiteit en leer jou kind van wiskunde, wetenskap en tegnologie terwyl hy of sy lekker trap.
Slim spieël
Dié spieël is ’n kamera met ’n ingeboude analitiese sisteem wat jou help om jou vel te versorg en grimering aan te wend. Dit vertel jou hoe jy plooie, donker kringe en merkies kan takel en beveel ook aan hoe jy jou dieet kan aanpas om probleme reg te stel. Jy kan dit selfs vir die buitelug, kantoor of winkel stel om die uitwerking van die beligting in ag te neem.
Slim haarborsel
Dié borsel, wat deur Kerastase en L’Oréal in samewerking met die tegnologie-reus Withings ontwikkel is, registreer skade op jou hare wanneer jy dit borsel. Dit gee vir jou terugvoer oor hoe jy jou hare beter kan versorg en laat weet jou as jy te hard borsel.
Jeans wat rigting gee
Die Spinali Design-jean het sensors op die belt wat met Bluetooth aan jou slimfoon gekoppel is. Dit vibreer en laat weet jou of jy moet regs of links draai op pad na jou bestemming sodat jy nie heeltyd op jou foon moet kyk terwyl jy loop nie.
Kierie vir veiligheid
Dié kierie tel ongewone liggaamlike aktiwiteit op soos as ’n persoon val. ’n Boodskap word dan outomaties na ’n familielid of versorger gestuur om hulle in te lig.
Slaap sag
The Sleep Number 360 monitor jou bewegings in jou slaap en sorg dat jy heelnag snoesig slaap. Dit werk ook met twee mense op die bed en kan selfs jou kop lig om te keer dat jy snork.
Tegnologie wat jou hare laat groei
The iGrow-helm stuur ’n kombinasie van rooi laser- en LED-strale na jou kopvel, wat glo haargroei stimuleer.
Jou yskas “praat” ook
The Smarter Fridge Cam is ’n yskaskamera wat ’n foto van alles in jou yskas neem elke keer wanneer jy die deur toemaak. Dit skandeer die vervaldatums op die produkte en laat weet jou wanneer jy iets moet weggooi.
Lees meer op International Business Times, Wired, Engadet en The Mirror se webtuistes.
Lees nou
Vroue in inligting en kommunikasietegnologie kry erkenning
5 grimeergewoontes om nóú te kweek
Só omskep jy ’n goedkoop skinkbord
The post CES-produkte waarvan jy móét weet appeared first on SARIE.