Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Ons is opgewonde oor…

$
0
0

Ons is om baie redes opgewonde oor 2017 en nie nét die blote feit dat “Die Aaklige 2016″ verby is nie. Ons lys van vandag af al die redes hoekom jy kan uitsien na die nuwe jaar, en meer spesifiek, al die name van Suid-Afrikaners wat ons opgewonde maak. Van sjefs tot akteurs, rugbyspelers tot skrywers, skaatsplankryers tot musikante. Hierdie mense is die voorlopers, innoveerders en kreatiewes en maak ons trots oor wat in Suid-Afrika aan die gebeur is.

Ons skop ons reeks af met ’n skrywer, ’n pianis, ’n teaterakteur en ’n sanger. Jy ken hulle dalk alreeds maar indien nie, is dit ons voorreg om jou aan hierdie vier Suid-Afrikaners bekend te stel. Ons is opgewonde oor wat hulle doen en hul projekte is op ons redaksie se lys van dinge om te sien, doen, lees en na te luister in 2017.

Irma Venter

irma venter

Irma Venter se eerste spanningsverhaal, Skoenlapper, het in 2012 verskyn. Sedertdien was daar byna elke jaar ’n nuwe boek uit haar pen: Skrapnel, Sondebok, Skarlaken en nou in Maart ook Sirkus (Human & Rousseau).

Venter vertel haar stories op ’n boeiende manier. Nes jy dink jy het die intrige uitgepluis, gee sy vir jou ’n nuwe kinkel om oor te wonder. Haar karakters is geloofwaardige mense en die omgewing waarin die verhale afspeel, word vindingryk met net ’n paar woorde beskryf. Daar is niks voorspelbaar aan hoe sy die gebeure laat ontvou nie. Die moordtonele word so visueel beskryf dat jy die prentjies moeilik uit jou kop kan sit. Aan die manier waarop sy die agtergrond inkleur, is dit ook duidelik dat sy haar navorsing behoorlik doen.

Ons het haar ’n vinnige paar vrae gevra.

Wat doen jy?

Ek skryf spanningsverhale/misdaadboeke/whodunnits. Ek is ook ’n voltydse joernalis by die tydskrifte Engineering News en Mining Weekly. Ek skryf stories oor tegnologie en besigheid, veral rakende die motorbedryf.

Waaroor is jy in 2017 opgewonde?
Ek is opgewonde oor die reën. En dankbaar. Oor die ANC se presidensiële verkiesing vanjaar. Oor sakelui en oud-stryders met beginsels. Oor Deon Meyer se film Jagveld wat lyk asof dit die tradisionele rol van die vrou in die Afrikaanse rolprentbedryf gaan rek. Oor die Woordfees op Stellenbosch in Maart. Oor die Zeitz-museum vir Kontemporêre Kuns Afrika (Mocaa) wat in September in Kaapstad open – selfs CNN is opgewonde hieroor.

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?
Hardekwas, of hárrekwas. Dis een van daai woorde wat ’n mens net in Afrikaans kan sê.

Roelof Temmingh

roelof temmingh

Sy pa was die internasionaal bekende komponis Roelof Temmingh (in 2012 oorlede), sy ma is die befaamde orrelis en pianis Zorada Temmingh (saam met die pianis Elna van der Merwe ook een van die gewilde Blondes wat klassieke musiek in jazz verwerk), en dit is dus geensins vreemd dat die musiekgene dik deur sy are loop nie.

Roelof, wat in 2014 in vyf van die ses kategorieë in die Hennie Joubert-klavierkompetisie vir jong Suid-Afrikaanse musici aan die Stellenbosse Konservatorium geseëvier het, is tans in sy tweede jaar aan die Royal College of Music in Londen.

“Ek is mal oor kamermusiek en is vanjaar baie bevoorreg om met ongelooflike musikante (mede-studente) baie kamermusiek te speel – ek is veral opgewonde oor ons konsert in Sevilla, Spanje, in Mei!”

Hoewel hy dit gate uit geniet oorsee, mis hy Suid-Afrika. “Die vriendelike mense en die kos (nou ja, my ma se kos). Ek het skoon nostalgies geraak toe ek nou weer, op pad terug na Londen, op die lughawe in die Kaap gestaan het en die meisie by die Woolies-bakkery hardop vir my begin lag toe ek nie kon besluit watter pastei ek wil hê nie (en toe ek uiteindelik kies, vra sy: “Is djy sieker?”).

Roelof is ’n fyn siel en vertel iemand het hom geleer: “Jou eie toetskol sal jou soos ’n kompasnaald deur die seë en storms van kunstenaarskap navigeer.’’

“Ek probeer altyd besluite neem volgens wat op die lange duur sal saak maak – as iets werklik belangrik is vir ’n mens, hou daaraan vas.” Die pianis het gepraat. En hy’s skaars mondig.

Dean Smith

dean smith

Hierdie belowende jong akteur het verlede jaar sy merk op die teatertoneel gemaak toe hy ’n Fiësta-toekenning as beste manlike byspeler gekry het vir sy spel in Die dag is bros.

In dié stuk het hy die verhoog gedeel met die gesoute Sandra Prinsloo. Hy vertel dat dit vir hom ’n voorreg was om saam met haar te kon speel. “Sy leer jou so baie, nie net oor acting nie, maar ook oor die bedryf. Sy is so nederig, sy luister altyd na ’n mens en is altyd bereid om te help.”

Wat doen jy?
Ek is ’n vryskutakteur. Ek het in 2015 my honneursgraad in drama voltooi aan die Universiteit Stellenbosch. Sedertdien het ek nogal besig gebly, meestal met teaterstukke.

Waaroor is jy in 2017 opgewonde?
“Ek hou van die onvoorspelbaarheid van die bedryf waarin ek is. Ek wil nie in ’n roetine verval nie. Ek soek die heeltyd na nuwe dinge om te doen en te leer. Ek sien ook baie daarna uit om ervaring op ’n sepiestel op te doen.”

Is daar iemand in wie se spore jy wil volg?
Ek steel waar ek kan van mense in die bedryf om my vaardighede uit te brei en om my eie styl te kan skep. Ek kyk op na akteurs soos Dawid Minnaar en Albert Pretorius. Dis mense wat vooruit loop en by wie ek baie goed leer.

Gunsteling-woord in Afrikaans?
Pantoffel, want dis so lekker eksplosiewe woord. In Afrikaans is daar soveel unieke woorde soos gogga wat net so lekker op die tong lê.

Refentse Morake

refentse

Afrikaans is Refentse Morake van Vereeniging se hartstaal – hoewel Sesotho sy huistaal is.

Dié jong man gaan van krag tot krag.

Wees op die uitkyk vir hom by vanjaar se KKNK, waar hy in 2016 landwyd bekend geword het. Hy het op die sypaadjie kitaar gespeel en gesing toe die rocker Karen Zoid hom nooi om saam met hom te sing. Hy kon sy geluk nie glo nie … en sê hy knyp homself nou nog soms.

Die res is geskiedenis: Refentse het sy eerste CD, My hart bly in ’n taal, verlede jaar uitgereik − en dit het trippel goue status bereik!

En vanjaar wil hy einde April sy tweede CD, ook in Afrikaans, uitreik. Dit het nog nie ’n naam nie, maar sal uit vyftien liedjies bestaan. En dit is baie in die styl van sy eerste album, beloof hy.

“Ek sien baie uit na die KKNK, want dit is waar ek my eerste platekontrak losgeslaan het. Ek kan ook nie wag om na die ander kunstenaars se vertonings te kyk en die verhoog met hulle te deel nie.”

Refentse glo in die goedheid van die mensdom, bewonder die wonders van die aarde, en ja, hy glo in wonderwerke.

“Ek sing oor verlore liefde, dinge waarna ons verlang – goed wat ons almal ken.”

En hy hoop met sy hele hart om met sy musiek brûe te bou en mense in goter harmonie saam te laat leef.

Lees nou

Anna-Mart word ‘ma’

2017 se TV-seisoen skop af met Lady Gaga as Donatella Versace

7 goeie Nuwejaarsvoornemens vir 2017

The post Ons is opgewonde oor… appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294