Die tragedie van Ingrid Jonker se lewe en universele temas in haar werk inspireer die musikant Luna Paige steeds ’n halfeeu ná die Afrikaanse digteres se selfdood.
Luna was een van ’n paar musikante wat van Ingrid se gedigte getoonset het vir ’n CD, Korreltjie kantel, wat hierdie maand vrygestel is. SARIE.com het met haar gesels.
Ingrid Jonker is reeds 50 jaar dood. Wat maak haar vandag steeds relevant?
Haar werk is eenvoudig, tog gelaai. Mens hoef nie ’n akademikus te wees om haar werk te verstaan nie. Haar temas is universeel: Wat mense in 1960 geraak het, raak hulle vandag nog. Haar tragedie is groot en mense is aangetrokke tot tragedie, veral romantiese tragedie. Haar digkuns is deurtrek met ritme. Miskien as sy vandag gebore was, het sy ’n liedjieskrywer geword. Dit is nie moeilik om haar gedigte in musiek om te sit nie. Dit vra musiek. Jy kan daarop stap.
Hoe het die projek Korreltjie kantel begin?
Ek is in 2015 deur RSG genader om ’n produksie te orkestreer waarin vyf musiekgroepe/liedjieskrywers/sangers toonsettings van Ingrid se gedigte moes doen vir die RSG Kunstefees. Die hele idee was om kunstenaars te kies wat interessant is, wat nie noodwendig eerste in jou kop gaan kom as jy aan toonsettings, Ingrid of selfs Afrikaans dink nie. Dit was ’n opwindende opdrag vir my.
Ek het toe vir Inge Beckmann, Medicine Boy (André Leo en Lucy Kruger), Hatchetman en Nick Turner genader om die projek saam met my aan te pak. Elkeen het toonsettings in hul eie musiekstyl gedoen en ons het saam met mekaar gesing en gespeel. Die produksie het groot reaksie op die fees ontlok en ek het besluit dit moet planke toe. Ek het almal genader om deel te wees daarvan. Uiteindelik het Nick en Hatchetman ingestem en is die produksie verlede jaar na die Woordfees en KKNK toe as verhoogstuk.
Vir die verhoog het ons die liefdesverhaal tussen Ingrid en André P. Brink as wegspringpunt gebruik. Ná die publikasie van Vlam in die sneeu (die liefdesbriewe wat die skrywer en digteres tussen 1963 en 1965 aan mekaar geskryf het) was dit ’n goeie aanslag om mense ’n nuwe blik op Ingrid se gedigte te gee. Ek het twee akteurs genader om stemwerk vir die vertoning te doen. Christine Truter en Wessel Pretorius het aandoenlike vertolkings as Ingrid en André gelewer.
Ná suksesvolle optredes by veral die Woordfees het ons besluit om die musiek op te neem. Hatchetman se program het nie ’n opname of nasionale toer toegelaat nie, en ek moes opnuut soek na ’n nuwe kreatiewe deelnemer. En daar beland Jamie Jupiter op die projek. En wat ’n aanwins! RSG het besluit om die projek te ondersteun en is verantwoordelik vir die CD wat vandag op die rakke is. Sonder hulle sou ons nie die CD kon maak nie. Ek en Nick en Jamie het opnuut saamgesit, gewerk, geskryf en met die finale produk vorendag gekom. Ons het in Desember 2016 die CD opgeneem by Sunset Studios op Stellenbosch. Die proses was organies, uitmergelend, snaaks, prettig, emosioneel – alles wat dit moes wees om ’n goeie eindproduk te lewer. Jürgen von Wechmar (die klankingenieur) het ook baie insette gelewer tot die kreatiewe proses, waarvoor ons baie dankbaar is.
Al die liedjies wat in die show is, is op die CD. Die meeste is toonsettings van gedigte uit Ingrid se bundels. In sommige gevalle het ons ons eie lirieke geïnkorporeer. “Juwele van jou oë” is my vertelling van die ooreenkomste tussen Ingrid en André se verhouding en die gebeure wat afspeel in sy boek Die ambassadeur. Nick se “Kanniedood” is in reaksie op die hoofstuk oor Ingrid in sy outobiografie, Vurk in die pad. Jamie het haar gedig “Fragment” sy eie gemaak en sy eie idees en lirieke daarby geïnkorporeer. André se vrou, Karina, het my baie gehelp en verwys na sy gedigte wat gepubliseer is in die tyd dat hy en Ingrid in ’n verhouding was. Sy het die impak van hul verhouding op sy menswees en literêre werk met my bespreek. Ek is innig dankbaar vir die tyd en passie vir haar man en sy verlede wat sy met my gedeel het. Sy is ’n spesiale vrou.
Waarom die naam Korreltjie kantel?
Ek het al Ingrid se gedigte bestudeer, baie oor haar gelees, Vlam in die sneeu en Vurk in die pad verslind – en agtergekom dat daar ’n dualisme in haar werk asook in haar persoonlike lewe was. Ek wou graag hierdie dualisme in die naam van die vertoning en in die musiek en musiekstyle weergee. Daar’s baie verwysings in haar werk na kanteling – van dinge wat nie noodwendig kan kantel nie. Vir my is dit op ’n manier die essensie van haar en haar werk. Sy was intens, vurig, passievol, maar ook kinderlik, pittig, wankelrig, onseker. Sy het geskryf oor die mens se nietigheid, maar ook die impak wat die kleinste, nietigste objek op sy omgewing kan maak. Hierdie is dinge waarmee ons almal gekonfronteer word. Die nag was vir haar ’n plek waar drome uitgeleef word en die dag, hard – en onvergeeflik. Sy het daarvan gehou om dinge te beloer, van alle moontlike kante. Korreltjie kantel is vir my ’n term wat ons herinner dat dinge anders lyk as ons dit vanuit ’n ander hoek beloer. Met die CD wou ons haar werk musikaal anders beloer en weergee.
Hoe het jy die musikante gekies wat saam met jou aan die projek gewerk het? Jul musiekstyle is nogal uiteenlopend.
Ek en Nick werk al ’n aantal jare saam en hy was as vervaardiger deel van my eerste volskaalse musiekproduksie, Die ander konsert. Hy is baie maklik om mee te werk, hy is nederig en verstaan spanwerk. Belangriker – hy is uiters talentvol as kitaarspeler, sanger en veral ook as liedjieskrywer. Nick was in die 90’s in die orkes Sons of Trout asook in die musiekgroep Mikanic. Hulle het gereeld by SA se top-rockfeeste en venues gespeel. In daardie tyd was Jamie Jupiter een van die lede van die gewilde musiekgroep Honeymoon Suites. Jamie het intussen solo gegaan, nes Nick – maar hulle het kontak behou. Nick het Jamie aan my voorgestel. Jamie speel ’n verskeidenheid van musiekinstrumente en was ’n ongelooflike toevoeging tot die projek. Albei is Engelssprekend en maak hoofsaaklik in Engels musiek. Dis juis hoekom hul Afrikaanse vertolkings so vars en uniek is. Hulle bekyk haar werk en die musiek wat by haar werk kan pas, van ’n heel ander plek as hoe ’n Afrikaanse musikant sou.
Het jy ’n gunsteling-liedjie op die CD en waarom daardie een?
Oe, dis moeilik. Almal is vir my spesiaal in hul eie reg. “Ouwyn van die dag” was pret om op te neem. Ons wou die ambiance van ’n kroeg/partytjie vasvang en het wyn gedrink en allerhande truuks in die studio gebruik om die gevoel weer te gee. Ek dink ons het goed geslaag. As Jamie se vokale inleiding op daardie liedjie begin, kan ek nie help om te glimlag nie. Nick se liedjie “Kanniedood” raak my – so ook Jamie se “Fragment”. Van my eie liedjies sou ek “Tula” wil uitlig. ’n Mooi ballade, ’n slaapliedjie.
Toer julle met die produksie en waar kan mense gaan kyk vir datums en plekke?
Ons toer skop 29 April af. Ons begin by Café Roux in Noordhoek, Kaapstad (kaartjies by Webtickets), waarna ons die hele land sal plattoer. Mense kan ons volg op ons Facebookblad, Korreltjie Kantel, of www.iluminarproductions.co.za se webwerf besoek waar alle optredes gelys sal word. Indien mense die CD wil bestel, kan hulle denise@iluminarproductions.co.za e-pos en sy sal die CD vir hulle pos. Andersins is die CD beskikbaar by alle goeie musiekwinkels reg oor die land, en ook by ons vertonings.
Lees nou
Hoogswanger Natalie Portman in musiekvideo
Dís die rykste stede in die wêreld
Wonder Woman Gal Gadot se dogtertjie gebore
The post 50 jaar ná haar dood inspireer Ingrid Jonker steeds appeared first on SARIE.