Leandie du Randt is een van ons gewildste aktrises en skitter tans in die rolprent Jagveld. Sy’t ook ’n selfhelpboek, Gemaklik in jou eie lyf, die lig laat sien en lewer motiveringspraatjies reg oor die land. Nou neem sy deel aan ’n projek, Vintage with Love, waar goeie tweedehandse klere ingesamel en verkoop en die geld dan aan liefdadigheid geskenk word.
Op 4 Mei hou Leandie haar eie geleentheid by Industrial Coffee Works in Centurion, Gauteng, waar mense tweedehandse klere kan kom skenk vir Vintage with Love se groot geleentheid in September in Kaapstad. Die geld wat op die ou end ingesamel word, gaan aan die organisasies Partners for Possibility, Chic Mamas, Shine Centre en Edunova geskenk word.
Hoe het jy by Vintage with Love betrokke geraak?
My universiteitsvriendin Anli van Jaarsveld help om klere vir die projek in te samel en sy weet ek love tweedehandse klere. Sy het toe gevra of ek nie deel van die projek wil wees nie. Die Here het my geseën met ’n groot platform en ek wil dit gebruik om meer mense betrokke te kry.
Hoe help die projek om ’n verskil te maak?
Dit ondersteun veral vroue en kinders deur die organisasies aan wie die geld geskenk word, byvoorbeeld met vroeë kinderontwikkeling en om minder bevoorregte kinders te leer lees en skryf. Dit help ook met die herwinning van klere.
Dink jy die wêreld raak meer bewus van herwinning?
Definitief en ek love dat dit ’n trend geword het. Ek spandeer baie minder geld vandat ek meer tweedehandse klere koop. Dit maak dit ook makliker om weer van die klere weg te gee as ek my styl wil verander.
Dink jy mense raak meer bewus van watter impak hul lewe op ander het?
Nie so baie mense besef dit soos wat moet nie. Mense besef veral nog nie hoe hul gedagtes en woorde hul eie lewe en ander om hulle s’n beïnvloed nie. Ons moet bewus wees van wat ons sê en dink. [Die leierskapskonsultant] Robin Sharma sê: “Every experience is created twice, first in the mind and then in real life.”
Waar kry jy tyd om tussendeur jou werk, huwelik, vriende en familie by liefdadigheid betrokke te raak?
Dit neem eintlik nie so baie tyd in beslag nie. Dis een aand uit my lewe plus die uur of twee wat dit neem om die plakkaat te ontwerp en op sosiale media te deel en ’n venue te bel. Ek vind hoe meer ek doen, hoe meer kry ek gedoen.
Hoe koop jy klere? Koop jy R1 000 se klere wat jy net ’n paar keer dra en dan weer uitgooi, of een item vir R1 000 wat jy jare lank dra?
Ek koop eerder goedkoper tweedehandse klere wat ek vir so ’n jaar dra en dan skenk. So nou en dan koop ek ’n duur item wat ek regtig love, maar ons het ’n reël in ons huis: Vir elke item wat jy koop, moet jy iets weggee. Dit laat ons dink of ons iets regtig nodig het voordat ons dit koop en of ons bereid is om iets daarvoor op te gee.
The post Leandie verander lewens met haar groot hart appeared first on SARIE.