Vir die afgelope paar weke het die deelnemers van Kokkedoortjie diep in ons harte kom kruip. Nie net is hulle oulike kinders nie, maar hulle is beslis klein meesters in die kombuis. Maar goed ken hulle hul kosterme. SARIE het gaan uitvind!
Wat is melanzana?
Dié klassieke Italiaanse gereg is geurig en vullend en heerlik vir vleislose aandetes. Die Engelse vertaling vir arrabbiata is “angry”. Die Italianers het dit glo só genoem oor die sterk brandrissie-geur. Pas die hoeveelheid rissies aan na smaak.
genoeg vir 4
Eiervrug
• 2 eiervrugte
• growwe sout
• 60 ml meel
• 2 eiers, geklits
• 100 g broodkrummels
• 60 ml olyfolie
Arrabbiata-sous
• 45 ml olyfolie
• 1 rooi-ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngerasper
• 2 rooi brandrissies, fyngekap
• 250 g kersietamaties, gehalveer
• 1 x 400 g-blik gekapte tamaties
• 5 ml sagte bruinsuiker
• sout en varsgemaalde swartpeper
• hand vol vars basiliekruidblare, grofgekap
Rond af met
• 200 g sagte bokmelkkaas
• hand vol vars basiliekruidblare
Eiervrug
Verhit oond se rooster-element. Sny eiervrugte in skywe van sowat 1,5 cm dik. Pak op kombuispapier en sprinkel growwe sout oor. Laat staan sowat 10 min. Spoel eiervrugskywe goed af en maak droog met kombuispapier. Bedek elke skyf eiervrug met meel, eier en broodkrummels. Verhit olyfolie in ’n diep braaipan en braai skywe sowat 3 minute aan ’n kant of tot goudbruin en gaar.
Arrabbiata-sous
Verhit olyfolie in ’n diep pan. Braai ui, knoffel en brandrissies tot sag en deurskynend. Voeg kersietamaties en geblikte tamaties by. Geur met suiker, sout en peper. Voeg basiliekruidblare by. Laat prut 15 – 20 minute. Pak skywe eiervrug op bakplaat, gevolg deur tamatiesous en skyfies bokmelkkaas. Herhaal met tweede laag eiervrug en eindig met kaas.
Plaas onder rooster-element en bak sowat 5 minute tot kaas goudbruin en gesmelt is. Sit warm voor met vars basiliekruidblare.
The post VIDEO: Kokkedoortjies raai (deel 2) appeared first on SARIE.