Verlede jaar het Jo Black die land se nuwe sangsensasie geword. Nou verkoop sy debut-album Skepe soos soetkoek. Maar sê Jo die sukses is steeds oorweldigend.
Jo se musiekvideo vir sy liedjie “Skepe” het verlede jaar as nommer een op iTunes in Suid-Afrika geëindig. Dis al meer as 1 miljoen keer op YouTube gekyk.
Vir Jo voel als nog onwerklik.
“Dis nog soms oorweldigend. Ek word nog elke keer onkant gevang as iemand my herken in die publiek. Ek weet nie hoe raak mense gewoond daaraan nie, dis iets nuuts, maar ek moet sê dat dis great om die impak te sien wat my musiek maak,” het Jo aan SARIE.com gesê.
Gelukkig is sy vrou, Debbie, en sy twee dogters, Dinieke (7) en Miané (4), daar om hom plat op die aarde te hou.
“Ek is versot op hulle. Hulle is my lewe.”
En vir Jo is Debbie beslis sy rots.
“Sy is een van daai vrouens wat haar gesin bo haarself plaas. En daar is glad nie ’n tekort aan liefde nie. Daar is genoeg soentjie en drukkies om jou deur die dag te kry.”
Maar dis ook sy eie ma wat hom geleer het om ander te aanvaar.
“Sy het my geleer om mense lief te hê. Een van gunsteling sê-goed is altyd: “Walk with kings, but never lose your common touch.” Almal het ’n storie, partykeer help dit om te luister.”
Jo kom uit die stal van die man met die goue hande, musiekvervaardiger Johan Vorster.
“Ek is oorweldig, ek het nooit kon dink ek sal nommer een wees nie. Ek sing al vir 16 jaar. Ek was nooit van plan on ʼn CD uit te bring nie. Dit was eers toe Johan Vorster en sy span my genader het dat ek geïnspireerd gevoel het om dit aan te pak.”
Jo het in sy begindae in kroeë gesing. Daarna was dit gospel en lofsang by kerke. Sy motiveringspraatjies by skole het die afgelope ruk aandag begin trek en gou was daar mediabelangstelling. Wie is die man met die groot baard en baie tatoeëermerke wat skoolkinders moed inpraat en adviseer? Sy boodskappe gaan oor onderwerpe soos selfdood, en hy sê vir jongmense: “Wees goed vir jouself en vir ander.”
Sy eie storie is aangrypend en inspirerend. Dis ’n verhaal van verslawing en sy pad was nie altyd maklik nie. Sy lewensverhaal laat jou luister met respek, afgryse en verwondering. En dan die applous, die cheer. Daai gevoel wat jy kry as één mens iets goeds doen, soos om ’n medalje te wen of ʼn drie te druk. Is dit hoekom daar so baie hart en siel in sy musiek is? Sy stem is manlik, maar gelaai met emosie. Die lirieke is diep sonder om te dweep. Poëties, liries miskien selfs intelligent, noem dit wat jy wil. En of jy daarvan hou of nie, sy musiek het artistieke meriete. Dis iets wat die laaste paar jaar skaars geword het onder baie Afrikaanse sangers.
Nou proe hy uiteindelik sukses as sanger. “Almal ken my as die ou wat by skole praat en ek is dankbaar om nou ’n positiewe boodskap deur musiek oor te dra. Vergeet van my baard en my vellies en my tatoes. Dit gaan oor stigmas, ek hou daarvan om vooroordele te vernietig. Mense onthou my as gevolg van hoe ek lyk, maar as ek my mond oopmaak en hulle hoor my hart, dan voel ek dat ek die doel bereik het.”
The post Jo Black oor sy sukses appeared first on SARIE.