Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Binnelanders se Kim maak vrede

$
0
0

Die seer van haar verlede is verby. Ná 17 jaar het sy uiteindelik vrede gemaak met die demone uit haar kindertyd en aanvaar Kim Cloete nou die liefde wat haar kant toe kom.

Vir die eerste keer in baie jare het sy rustigheid in haar hart, sê aktrise Kim Cloete. Sy skud haar kop, ongelowig, en glimlag.

“Dis gróót … Ek het vrede gemaak met my familie. Dit het in Augustus 2015 begin, toe ek vir die eerste keer in sewentien jaar huis toe is, na Bonteheuwel in die Kaap. Daar het ek my mammie, my broer en sy kinders gesien. En dit het my só goed gedoen. Deesdae is ons deel van mekaar se lewe en dis wonderlik.”

Kim het al in verskeie media-onderhoude vertel dat sy ’n moeilike kinderlewe gehad het en deur ’n nabye familielid mishandel is. Dié dat sy op die ouderdom van twintig sak en pak Johannesburg toe is om haar loopbaandrome te volg en nooit weer teruggekyk het nie. Tot nou.

“Ek het besef dis tyd om te laat gaan. Dit maak jou moeg om moeilike dinge so rond te dra. Ek moes weet wie ek is sonder hierdie gewig op my skouers. Ek wou daai vrees in die oë gaan kyk, want die meisie wat ek as twintigjarige daar by die huis gelos het, het soveel demone gehad.”

FOTO Phyllis Green

Toe Kim die eerste keer by haar destydse ouerhuis stilhou, het al haar ou vrese weer teruggekeer en sy was op die randjie om alles te kanselleer.

“Maar ek het deurgedruk en ingegaan. En in ’n stadium het ek besef alles wat eens so groot was in my kop, is nou klein. Toe ek daar uitstap, het ek soos ’n reus gevoel. Dis hoe ek geweet het dis verby. Ek’s klaar daarmee. Eintlik was ek al lankal klaar daarmee.”

Want deur die jare het sy tog haar seer verwerk – meer as wat sy toe besef het.

“Wanneer jy op jou eie jou verlede probeer verstaan, sonder om weer daardie mense te sien, voel dit soms asof jy nêrens kom nie. Maar jy doen. Al daai wroeging en terapiesessies was die moeite werd. Ek het ná soveel jare besef ek is eindelik oor die seer van die verlede, ek is nie meer kwaad nie.  En nou is daar net liefde. Ek het my mammie herontdek en ons het nou so ’n lekker verhouding. Ek is weer deel van my broer en sy kinders se lewe, nie net meer die tannie op TV nie. Ek vlieg af Kaap toe en ons kuier te lekker. Die laaste keer in Februarie het ek vir haar ’n verrassingspartytjie  vir haar sestigste verjaardag gereël. So moeilik soos my grootwordjare was, was dit ook moeilik om sonder my familie te wees, want ons was tog na aan mekaar.”

Sy sien ook die uitwerking van dié katarsis in ander dele van haar lewe – veral met ’n nuwe liefde aan haar sy. Sy en die akteur Murray Todd is nou so sewe maande saam.

“Dis asof ek aan die ander kant uitgekom het en hy daar vir my gewag het. Ek voel toegepak in kapok. Murray is my beste maat – daar’s niks wat ons nie van mekaar weet nie. Ek ken hom al elf jaar as vriend en ons het al saamgewerk in verhoogproduksies, maar daar was voorheen nooit ’n aangetrokkenheid tussen ons nie. Ek dink jy sien eers iets as jy reg is daarvoor – ek het hierdie keer ’n ander soort verhouding gekies omdat ek self anders is.”

Lees die volledige onderhoud in SARIE se Mei 2017-uitgawe.

The post Binnelanders se Kim maak vrede appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294