Die Vampire Diaries-akteur Ian Somerhalder en sy vrou, Nikki Reed van Twilight-faam, het hulle eersteling verwelkom. En wat is die babadogtertjie se unieke naam? Bodhi Soleil!
Bodhi is glo ’n Sanskrit-naam wat “verligte” beteken terwyl soleil Frans is vir son. Haar naam beteken dus letterlik sonstraaltjie!
Die paartjie is in 2015 getroud en het die nuus oor Nikki se swangerskap drie maande gelede op Instagram bekendgemaak.
Die twee het ook hul voorneme gedeel om ’n maand uit die kollig te verdwyn sodra hulle dogtertjie gebore word. Nikki het vir die tydskrif Fit Pregnancy and Baby vertel hulle wil in hierdie tyd geen besoekers ontvang nie en dat hulle ook sosiale media gaan vermy sodat hulle kwaliteittyd saam met hul baba kan geniet.
Nikki spot in die artikel dat Ian sou verkies dat sy altyd swanger is. “Ek is ’n baie gedrewe, energieke mens. Ek is aan die stuur van verskeie maatskappye en lees sommer vier boeke op ’n slag. Nou in my swangerskap is ek ongelooflik kalm en rustig, iets wat vir my en Ian albei ’n seën en verligting is!”
Die pragtige aktrise het ook verklap hoe sy fiks gebly het tydens haar swangerskap. “Ek stap met gewigte en swem baie!”
The post Ian Somerhalder en Nikki Reed verwelkom eersteling appeared first on SARIE.