Sou jy graag wou speel in ‘n produksie by die Aardklop Nasionale Kunstefees? Dan is dit nou jou kans! Kom wees ‘n ekstra in Die Waarsêer” en word deel van ‘n stukkie toneelgeskiedenis wat vanjaar tydens die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom gemaak word.
Gewone lede van die publiek gaan die kans kry om as ekstras op te tree in Die Waarsêer, een van die grootste toneelproduksies by Aardklop. Hulle gaan die verhoog deel met bekende akteurs soos David Reese, Neels Clasen, Hannes Brümmer en Anna Davel. Ekstras word gereeld gebruik in flieks en televisiereekse, maar nie op die teaterverhoog nie. Dit is dus ‘n uitsonderlike geleentheid. Deelnemers gaan die geleentheid kry om die adrenelieninspuiting voor die gordyn oopgaan te ervaar en die buiging en applous aan die einde van die vertoning.
Die Waarsêer Is gegrond op ware gebeure wat in die laat 1950’s op die klein dorpie Amersfoort afgespeel het. Die ekstras wat gekies word, gaan deel vorm van ‘n groep dorpenaars wat in drie tonele bymekaar is in die rugbyklubhuis waar ‘n groot deel van die stuk afspeel.
Geen drama-agtergrond of -ondervinding is nodig nie en enige een ouer as 16 en jonger as 90 kan inskryf. Kort of lank, dik of dun, oud of jonk, manlik of vroulik is welkom om aansoek te doen. Indien verkies, kan persone as pare inskryf. Nooi jou vriend, niggie, neef, buurvrou of gade om saam met jou in te skryf. Persone wat gekies is, sal op 1 Oktober daarvan in kennis gestel word.
Die toneelstuk vertel die verhaal van Kiewiet Vogel (gespeel deur David Rees), wie se sinnelose en droomlose bestaan ingrypend verander wanneer die sirkus dorp toe kom en hy skielik deur `n skynbaar toevallige sameloop van omstandighede hom in die rol van die sirkus se waarsêer bevind. Hierdie gebeurtenis het onverwagse gevolge. Die stuk is gesinsvriendelik en ouers kan met vrymoedigheid hulle kinders saamneem.
Belangstellendes kan meer inligting by www.windgat.co.za kry. Die Aardklop Kunstefees vind hierdie jaar op 6 tot 10 Oktober in Potchefstroom plaas.
The post Wees deel van ’n Aardklop-produksie appeared first on SARIE.