Die plaaslike sanger Brendan Peyper het die internet aan die gons. Sy solo-album, Stop, wag, bly nog ’n bietjie, is nou te koop en die musiekvideo van die titlesnit is reeds meer as 400 000 keer op YouTube gekyk.
Hier is 10 goed wat jy dalk nie van dié 19-jarige geweet het nie.
1. Hy verkies brunette, tog is die plaaslike, blonde sangeres Charlize Berg sy celeb-crush: “Sy het ’n sexy stem en ’n unieke teenwoordigheid op die verhoog.”
2. Hy handhaaf ’n gesonde leefstyl. Brendan spandeer daagliks tot twee ure in die gim en sy dieet is ryk aan proteïene en min koolhidrate, vet en suiker: “Ek het verlede jaar laas sjokolade geëet … en eet liewer hoender en tuna as gemorskos.”
3. Brendan se ma hou nie daarvan dat meisies hom vra om sy hemp uit te trek nie: “Sy was gelukkig nooit teenwoordig wanneer dit gebeur nie.”
4. Hy gee glad nie om dat mense hom met die bekende Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld vergelyk nie: “Hy is verskriklik suksesvol, dit is vir my ’n groot kompliment as mense dink ons het goed gemeen.”
5. Elvis Blue is een van die plaaslike sangers saam met wie hy graag sal wil werk: “Ek het sy Idols-reis gevolg. Hy is baie talentvol en glad nie bang om met die kitaar sy ding op die verhoog te doen nie.”
6. Toe Brendan 15 was, het hy ook vir Idols ingeskryf, maar het ongelukkig nie die “groenlig” gekry nie.
7. Hy is trots Afrikaans en Suid-Afikaans, maar droom daarvan om sy merk op internasionale verhoë te maak: “Ek sal nooit ophou om Afrikaanse musiek te maak nie, maar wil ook graag Engelse liedjies skryf.”
8. Brendon hou van boeremusiek: “Ek luister graag na Die Teelepeltjies en Klipwerf.”
9. Die Amerikaanse musikant Chris Daughtry is sy rolmodel: “Ek dink hy het die beste stem op aarde. Daar is nie woorde om te beskryf hoe fantasties ek dink hy is nie!”
10. Brendan het duisende aanhangers en dit is vir hom belangrik dat sy musiek hulle laat goed voel. Hier is sy boodskap aan hulle: “Baie dankie vir jul ondersteuning. Ek sou nie hier gewees het sonder julle nie. Moet asseblief nie ophou om na my musiek te luister nie.”
Kyk hier na Brendan se Stop, wag, bly nog ’n bietjie
Lees ook
- Dié bekendes blink uit op sosiale media
- Die 10 gewildste Afrikaanse musiekvideo’s
- 10 SA liedjies om jou week op te kikker
The post 10 dinge wat jy van Brendan Peyper moet weet appeared first on SARIE.