Ná 7 jaar as die neurotiese verpleegster Daleen het Desiré Gardner vir eers besluit om Binnelanders te verlaat. Sy praat eksklusief met SARIE.com oor dié groot besluit.
“Dit is vir my hartseer om Binnelanders te groet en dit was ’n ongelooflike ervaring om in een van die gewildste Afrikaanse sepies te speel,” sê Desiré.
En wat voorlê vir Desiré is die Kaap. Sy sluit een van die dae by die nuwe Afrikaanse sepie Suidooster aan.
“Om by Suidooster aan te sluit en in die Kaap te kan werk, is ook een van my drome wat bewaarheid word.”
“Ek is regtig dankbaar vir die geleenthede wat kykNET vir ons as akteurs gee.” Beide Binnelanders en Suidooster word op kykNET uitgesaai.
Desiré se man, Chris, is die hoof van beligting en tegnies by Suidooster.
____
Desiré vertel aan SARIE in ons Augustus 2015-uitgawe dat sy nog altyd ’n sin vir drama gehad het.
Uittreksel uit ons Augustus-uitgawe, geskryf deur Delia du Toit
As die jongste van vyf kinders was sy die kreatiewe een. “Ek het op skool al drama geneem en goed gedoen daarin, en toe drama by Tukkies gaan studeer. Ek is maar eintlik ’n bietjie van ’n introvert. So dis vir my heerlik om way-out karakters te speel, want dit gee my kans om van my frustrasies ontslae te raak!
“As ek enigiets anders moes doen, sou dit iets soos ’n sekretaresse vir ’n veearts wees, omdat ek baie van diere hou. Maar ek is ongelukkig te lomp daarvoor – ek is daai meisie wat by ’n buffet my skeppie op die vloer laat val en dan die opskepbord ook sommer omstamp. Tog kan ek my só in ’n karakter inleef dat ek dan nie lomp voorkom nie. Net vanoggend het ek as Daleen iemand se pleister perfek geplak!”
[...]
[S]y is net bly om elke dag te kan doen waarvoor sy ’n passie het. “Dit was nog altyd my droom om elke dag te kan act.”
Ek wil nie saans in die bed klim en dink ek het darem my woorde onthou nie, ek wil dink ek het gedoen waarvoor ek lief is. En sover is dit nog elke dag so.
Lees meer in ons Augustus-uitgawe – laai dit digitaal HIER af.

FOTO: Marijke Willems
The post ‘Binnelanders’ se Daleen, Desiré Gardner, binnekort in ‘Suidooster’ appeared first on SARIE.