Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Aktrise Andrea Streso trou byna!

$
0
0

In 2015 was kykers ontsteld toe haar 7de Laan-karakter, Danelle, tragies gesterf het voor sy met Bernard kon trou. Maar die naweek gaan die aktrise en spraakterapeut Andrea Streso self trou. SARIE.com het met dié pragtige blondekop gesels oor die liefde en haar lewe in Nederland.

FOTO: Leana Clunies-Ross

FOTO: Phyllis Green

Van kleins af het Andrea geglo dat jy jou drome moet volg. As ’n opgeleide spraak-, taal- en gehoorterapeut het sy in 2013, terwyl sy besig was met haar praktiese jaar, vir ’n 7de Laan-oudisie gegaan. ’n Week later het sy gehoor sy het die rol en is sak en pak Johannesburg toe.

“Ek sal my tyd op 7de Laan vir niks verruil nie. Ek het soveel geleer!” vertel Andrea aan SARIE.com.

Maar in 2015 het sy die Laan permanent verlaat, haar spraakterapie-jassie aangetrek en haar studies klaargemaak.

“Ek het weggestap sonder enige spyt, want my beroep is so bevredigend! Die afgelope paar maande het ek net besef dat ek dit vir niks wil verruil nie. Ek is lief vir my werk en ek geniet dit. Maar ek kan my liefde vir spel en spraakterapie so mooi kombineer. Teater sal egter deel bly van my lewe. En as ek dit kan doen, sal ek.”

Haar nuwe lewe in Amsterdam

Die afgelope paar maande woon sy in Amsterdam, Nederland. Haar verloofde, Hoffman van Zyl, werk as prokureur by die internasionale firma Freshfields Bruckhaus Deringer.

“Al mis ons familie en vriende, is Amsterdam ’n ongelooflike avontuur. Ons het reeds nuwe vriende en voel al tuis. En ons ry fiets! In die son, in die reën en in die sneeu!

                                                                                      – Andrea Streso

Ná hul troue gaan die pasgetroudes terugkeer na Amsterdam.

“Dit was ’n moeilike besluit. Maar ons is nog jonk en ons doen dit gelukkig saam!”

Andrea wil graag in Amsterdam praktiseer. “Maar ek is steeds lief vir toneelspel en wil iewers kyk om by ’n groep aan te sluit!”

Sy was mal oor hom, maar hy wou niks weet nie

Andrea en Hoffman het mekaar as studente op Stellenbosch ontmoet.

“Ek was mal oor hom, maar hy wou niks weet nie. Ons het mekaar ’n paar jaar later een aand in Johannesburg raakgeloop en toe het Hoffman blitsvinnig sy deuntjie verander. Hy het dieselfde aand vir my ’n vleiende boodskap gestuur, maar sweer vandag nog hoog en laag dit was sy vriend wat die boodskap gestuur het. Hy het in elk geval ’n week later my hart gewen toe hy vir my kom kosmaak by my huis en sy kitaar saambring.”

Die twee het in 2014 verloof geraak. En sy en Hoffman moes toe uit Nederland ’n groot deel van hul troue beplan.

“Gelukkig was daar e-pos! Alles is nou afgehandel. En die vlinders is hier.”

Hou dié naweek SARIE.com dop vir die foto’s en storie oor Andrea Streso se sprokiestroue

The post Aktrise Andrea Streso trou byna! appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294