Jonk, mooi en met die toekoms wat roep. Die matriekklas van 2015 het ons weer eens beïndruk met hul matriekafskeidrokke.
Hier is ons tweede groep van 11 van die 44 semi-finaliste vir 2015 se Matriekrok van die Jaar-wedstryd.
(Kyk hier na die eerste groep semi-finaliste)
Franzelle Barnard, Hoërskool Klerksdorp
“Tydens ’n vakansie by Sun City het ek my hart op ’n paar skoene verloor. My ouers het dit in die geheim vir my gekoop en dit later vir my gegee […] My rok se inspirasie was natuurlik die skoene!”
Khanya Janzen van Rensburg, Hoërskool Transvalia
“Kleurkeuses was nie moeilik nie, aangesien neutrale kleure soos wit, sjampanje en room my nog altyd aangetrek het en beslis op my voorkeurlys was. Ook wou ek graag kristalle op my rok hê – sommer baie!”
Megan Ohlhof, Table View High School
“My rok is in twee dele gemaak. Die swart ‘showstopper’ pas oor die goue gedeelte, wat die onderdeel van my rok is. Ek het die swart gedeelte gedra tot by die skool. Nadat ons by die skool foto’s geneem het, het ek die swart gedeelte afgehaal en toe lyk my rok heeltemal anders.”
Liané Snyman, Hoërskool Hoopstad
“Ek het soos ’n mooie prinses gevoel in my rok. Alles was net perfek gewees!”
Zelri Olivier, C & N Sekondere Meisieskool Oranje
“Ek het geweet dit moet ’n goedvoel-, gemaklike rokkie wees. My grootmens-rok het met die finale aantrekslag soos ’n handskoen gepas. Vir my was my rok baie meer as ’n goedvoel-rokkie. Dit was deur-my-trane-mooi.”
Willene Kuhn, Hoërskool Wesvalia
“Ek wou graag ’n rok hê wat al my beste eienskappe ten toon stel en my persoonlikheid weerspieël. Ek het op ‘n klassieke kleurkombinasie van swart en “nude” besluit om my rok tydloos te maak, met ‘n lae ruglyn en deursigtige romp om dit jonk en ‘n tikkie parmantig te maak.”
Mariaan de Klerk, Oranje Meisieskool Bloemfontein
“Die rok het ‘n besondere plek in my hart ingeneem. Dit is ‘n simbool van my matriekjaar – harde werk en dan uiteindelik die ongelooflike resultate.”
Larné du Plessis, Hoërskool Wonderboom
“Ek wou vir een dag voel ek lewe in die Victoriaanse tyd, maar ook nie té dramaties nie. Ek het gekyk na ontwerpe, maar die nuwerwetse rokke was vir my te styf en te kort. Ek wou my matriekafskeid geniet en nie ongemaklik voel nie.”
Anel Fourie, Hoërskool Pearson, Port Elizabeth
“Ek hou van eenvoudige klassieke rokke, met tog ietsie anders en sexy daaraan. Swart is altyd vir my ‘n wenner omdat ‘n vrou elegant en slank vertoon daarin.”
Thelmi Botha, Klerskdorp Hoërskool
“My rok is rooi – want rooi is MOOI! Aangesien die meerderheid meisies ligte pastelkleure verkies, wou ek anders wees en in ‘n bloedrooi rok opdaag. Ek hou van fyn detail soos die mooi kantpatroontjies wat uitgeknip was en afsonderlik opgewerk is.”
Tamaryn-Rose Robinson, Southdowns College
“Ek was geinspireer deur Eli Saab and Zuhair Murad se ontwerpe. Ek het n neutrale kleur gekies om by my vel en hare te pas. Daarna het ons saam met die ontwerper na oesterkleur materiaal en kant gaan soek.”
The post Hier’s hulle! Ons semi-finaliste vir Matriekrok van die Jaar (Deel 2) appeared first on SARIE.