Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Bekendes eet: Hannon se caprese-slaai

$
0
0

Die Glam Guru (kykNET) van Suid-Afrika, Hannon Bothma, se maatskappyleuse is “mooi is maklik”. Dié grimeer- en haarstilis wil vroue immers leer almal kan mooi lyk, jy moet net weet hóé.

Hy deel ook weekliks mooimaak-raad aan luisteraars op OFM en Groot FM-radiostasies uit. Sy weeklikse voorkomsrubriek, Vra vir Hannon in Huisgenoot, verg heelwat navorsing.

“Ek is mal oor gratis optredes landwyd. Die geld word aan verskillende liefdadighede geskenk. Dáár leer ek my kliënte regtig ken en dít dien weer as inspirasie vir my reeks skoonheidsprodukte,” vertel hy.

Meer as 2000 haar- en skoonheidsalonne verkoop (en gebruik) onder meer sy produkte.

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

My gusteling: caprese-slaai

“Ek het dit die eerste keer in Italië geëet en hou van alles Italiaans – die kos, argitektuur, opera en veral die mense.

“Hulle maak eenvoudige kos – dís dikwels die lekkerste. Dié slaai is maklik. Jy kan dit maak voordat jou gaste opdaag, dan het jy meer tyd vir kuier.”

Hy gee terloops vir ’n restaurant “punte” op grond van die caprese-slaai wat daar voorgesit word.

Bestanddele:

• Die caprese-slaai se kleure lyk soos die Italiaanse vlag – groen (blare van basiliekruid), rooi (groot, sonryp tamatieskywe) en wit (mozarellakaas in dun skywe gesny).

• Die slaaisous is ’n mengsel van balsemasyn, olyfolie, tafelsout en (as jy dekadent wil wees) so ’n knertsie truffel-olie.

Metode 1:

• Vir ’n informele kuier, pak die hoofbestanddele uit op ’n groot plat bord (kompleet soos wanneer jy die kaarte vir ’n potjie brug sou uitpak) terwyl jy die bestanddele afwissel om kleurkontras te skep – mozarellakaas, tamatie en basiliekruidblare.

• Wanneer alles mooi uitgepak is, gooi die slaaisous bo-oor – ek hou van baie slaaisous sodat jy ná die tyd brood daarin kan doop om die sous op te suig.

Metode 2 :

• Vir ’n meer elegante aansit-ete waar elke gas se bord vooraf opgeskep en versier word, maak liefs stapeltjies caprese-slaai-op klein slaaibordjies.

• Gebruik jou skyf tamatie as basis. Pak eers ’n skyf mozarellakaas daarop en dan ’n basilieblaar. Besluit self hoe hoog jy die stapeltjies wil pak deur dit so twee of drie keer bo-op mekaar te herhaal. Ná elke herhaling moet jy eers so ’n klein bietjie van jou slaaisous oorskep om te sorg dat al die geure goed versprei is. 

Wenk – smeer vooraf jou slaaibord met olyfolie, want mozarellakaas suig vas aan die bord en maak dit soms moeilik om netjies te skep.

Lees ook

Bekendes eet: Margit se sappige bobotie

Bekendes eet: Anél se sjokolade-drankie

Celeb-resep: Amor se maklike garnale en Italiaanse slaai

The post Bekendes eet: Hannon se caprese-slaai appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294