Binnelanders-aktrise Leandie du Randt se passie is om mense te help wanneer sy nie op stel is nie. In die verlede het sy al ’n boek geskryf waarin sy raad uitdeel en nou gaan sy ook voor die kameras mense help om hul lewe om te keer.
Leandie is tans besig met opnames van die leefstylprogram Slank, wat in Oktober op kykNET uitgesaai sal word. In dié reeks gaan sy 13 alledaagse mense van verskillende ouderdomme, agtergronde en uiteenlopende loopbane help om hul ideale gewig te bereik en ’n gesonde leefstyl aan te leer.
“Dit is egter nie ’n kompetisie soos The Biggest Loser nie. Dit is unfair om mense met mekaar te laat meeding. Ons lywe is te verskillend. Soos ek ook in my motiveringspraatjies sê, niemand is ʼn beter jy as jy nie,” het sy aan Fanie Cronjé, styl- en sosiale redakteur van SARIE, gesê.
In die program word die deelnemers deur ’n sjef gewys hoe om kos te maak, elkeen kry ’n oormaaksessie en word gewys hoe om aan te trek vir sy of haar lyf. Daar sal ook ’n paar drome waar word tydens die reeks.
Gevra wat sy nog van die reeks kan verklap, vertel Leandie van ’n manlike deelnemer wat graag gholf speel, maar later nie meer kon nie. “Sy gesondheid het dit nie toegelaat nie. Soos sy lyf verander het in die program, het ons saam met hom gaan gholf speel. ’n Ander vrou was so oorgewig dat sy nie eens haar kinders kon optel nie. Haar droom was om saam met hulle dieretuin toe te kan gaan en nou, danksy haar gewigsverlies, is dit moontlik. Ek help ook iemand om ʼn suit vir sy troudag te gaan uitsoek. Hy het al 27 kg verloor en wil teen die einde van die reeks 50 kg verloor. Nie een van die finaliste het minder as 12 kg in twee maande verloor nie.”
Leandie besoek ook graag plattelandse dorpe die land oor om te gesels oor haar boek, Gemaklik in jou eie lyf*, waarin sy tienermeisies raad gee. In die praatjies moedig sy hulle aan om hul beste self te wees. Sangeres Irene-Louise van Wyk tree saam met Leandie by dié geleenthede op. Hul volgende groot vertoning in Johannesburg is op
30 September by Emperor’s Palace in Kemptonpark. Kaartjies kos R150 en sluit kaas en wyn in.
*Gemaklik in jou eie lyf is gemik op tienermeisies en raak aan onderwerpe soos oefening, dwelm- en alkoholmisbruik, groepsdruk, eetsteurnisse, selfbeeldkwessies en spirituele gesondheid.
The post Leandie laat mense beter voel, en nou ook gewig verloor appeared first on SARIE.