Internasionale sangsensasie Patrizio Buanne beloon plaaslike aanhangers met ’n bonus-album – in Afrikaans.
Op die album werk hy saam met top- plaaslike kunstenaars soos Corlea Botha, Steve Hofmeyr en Juanita du Plessis.
Patrizio kom op 19 Julie in Suid-Afrika aan om sy vierde internasionale album, Viva la Dolce Vita, bekend te stel. Dit het reeds platinumstatus bereik. Dié dubbelalbum sal vanaf 24 Junie plaaslik beskikbaar wees.
“La dolce vita beteken to live the sweet life. En dis my lewe. Daarmee sê ek nie my lewe is perfek nie, maar ek glo jy moet ’n positiewe lewensuitkyk hê. Dit maak my gelukkig om te sing. Ek is baie tevrede met Viva la Dolce Vita en ek glo regtig dis my beste album sover,” het Patrizio in ’n persverklaring gesê.
Patrizio sal ook op 30 Julie in die Classics is Groot-konsert in Pretoria te sien wees, waar hy saam met Jannie Moolman en Corlea klassieke werke gaan sing.
Die “Surrender”-sanger word beskryf as ’n Italiaanse Tom Jones en vier ook sy tiende jaar in die musiekbedryf.
Patrizio glo vas romanse is nie noodwendig corny nie. “Romanse gaan oor baie meer as kerslig-etes en Valentynsdag. Dis iets wat elke dag moet gebeur. Om iemand se hand vas te hou, die persoon te respekteer, by te staan, lief te hê, te help in die kombuis, vir hom of haar om te gee…en ja, selfs die skottelgoed te was,” skerts hy.
“Suid-Afrikaners behandel my met soveel respek en liefde,” het Patrizio gesê. En hy kan glo ons kos en wyn nie weerstaan nie. “Soos ons in Italië sê: ‘Om te eet is onvermydelik. Maar om kos te geniet is ’n kuns.’ En daar is baie lekker kos in Suid-Afrika.”
Lees nou
‘Danksy SARIE vind ek ware liefde’ – leser vertel
Janez Vermeiren se waarskuwing aan ouers
The post Italiaanse Patrizio & Steve maak knieë lam appeared first on SARIE.