Ontmoet die lede van Groenblare, die band waarin James Cuningham, Bennie Fourie, Wilson Dunster en Stiaan Smith in Sy Klink Soos Lente speel. Daar is soveel om na uit te sien in Sy Klink Soos Lente, maar nou fokus ons eers op die musiek!
Verlede week het ons Groenblare se tromspeler, Ryan (James Cuningham), ontmoet. En hierdie week leer ken ons vir JJ, die motorwerktuigkundige met ’n halwe voortand!
Bennie Fourie wie jy in Mooirivier en Die Pro gesien het, speel die rol van baskitaarspeler JJ in Groenblare. Groenblare is die band wat Ben (gespeel deur Stiaan Smith) stig, sodat hy Linda (Amalia Uys) se hart kan wen!
Hy gesels met ons oor wat hy alles moes doen vir dié rol.
Watter instrument moes jy leer speel? Het jy enige musikale agtergrond?
Ek moes baskitaar leer speel. Ek het op hoërskool klavierlesse gehad, maar kan glad nie speel nie. Ek kan ’n bietjie kitaar speel, wat baie gehelp het. Op koshuis was ek mal oor ser! My pa speel vrek baie instrumente. Dalk is dit in die bloed, maar nie ontgin nie a.g.v pure luiwees.
Moes jy al voorheen nuwe vaardighede aanleer vir ’n rol?
Ja, met Die Pro moes ons leer surf – binne drie maande. Maar dit was ontsaglik lekker. Ek is mal oor ’n uitdaging, so ek leer graag ’n nuwe vaardigheid aan.
Beskryf jou Sy Klink Soos Lente-karakter.
JJ is ’n lekker ou. Jy wil hom by jou braai hê. ’n Lojale vriend met swak kleresmaak … al dink hy nie so nie. Hy dra baggy jeans en random kortmou-knopieshemde. Sy stukkende werkskoene is met kleefband geplak. Dit som hom taamlik goed op.
Hy is wel nie so ’n prettige mens by die huis nie. Hy is die pa van twee en semi-ongelukkig getroud … hy voel vasgevang as hy by die huis is en probeer so min moontlik daar wees.
Vertel ons van jou tand!
My tandarts, EC Bierman, was so vriendelik om verniet my voorste tand af te vyl sodat dit lyk of hy ge-chip het. Ek het geval toe ek op laerskool was en die tand gebreek, so hy moes darem net die reggemaakte deel uithaal.
Ek wou die karakter so bietjie onnetjies laat voel. Dit was subtiel gedoen sodat dit nie komies aandag trek nie, maar om JJ onafgerond te laat lyk. Ek moes vir 5 weke so rondloop … jy voel nogal selfbewus! Ek het die tand daarna weer laat regmaak.
As jou karakter ’n klankbaan gehad het, wat sou dit wees?
‘Rosanna’ van Toto. JJ is mal oor ou treffers en dit is sy gunsteling-liedjie!
Wat staan uit as die lekkerste dag/gebeurtenis op die stel van Sy Klink Soos Lente?
Die band, Groenblare, se optredes was by uitstek die lekkerste. Dit het gevoel of ons regtig in ’n band is. Dan moes ek, Stiaan en James ook ’n toneel in ’n motor skiet – met R1 miljoen se kamera-toerusting op die enjinkap.
Ons het ook ’n baklei-toneel met James Alexander gehad en dit was cool.
Wie gaan van Sy Klink Soos Lente hou?
Jannie du Toit en hopelik die res van die land. Ek dink die musiek is regtig cool, jonk en vars. Die storie is vreeslik goed geskryf en ek glo ’n goeie storie kan by almal aanklank vind!
Kyk na Sy Klink Soos Lente se lokprent hier
SARIE is die trotse mediavennoot van Sy Klink Soos Lente. Lees meer oor dié opwindende film HIER.
The post Bennie Fourie: ‘Ek het halfte van my tand verloor vir dié rol!’ #SKSL appeared first on SARIE.