Daar is ’n nuwe filmfees in SA en dis danksy die werk van drie vindingryke jong vroue. Aktrise Reine Swart, een van SARIE se opkomende talente in 2016, is een van die organiseerders.
Kleinkaap Boutique Hotel in Centurion speel gasheer vir die heel eerste Kleinkaap Kortfilmfees (KSFF) wat 7- 8 Augustus plaasvind. Dié internasionale filmfees beoog om die publiek en die rolprentbedryf bekend te stel aan plaaslike en internasionale kortfilms. ’n Kortfilm is ’n fliek van minder as 30 minute.
Jy het miskien al van hierdie organiseerders op die televisie en op die silwerdoek gesien, maar ander was heel waarskynlik agter die skerms. Reine Swart (Die Pro, Bloedbroers, Somer Son), Keyuri Naidoo en Mari Molefe van Heerden (Villa Rosa, 7de laan) het alle filmmakers genooi om voor 1 Julie 2016 ’n kortfilm in te stuur.


Dié drie vroue het besluit om so ’n platform vir filmmakers en die publiek te skep omdat daar nie voorheen ’n kortfilmfees in Gauteng was nie. Kleinkaap is ook bekend vir sy bydrae om Suid-Afrikaanse films te bevorder. Voorheen het dié hotel buitelug-fliekaande gehou, die Moonlight Movie Nights, en ook praatjies deur kenners in die rolprentbedryf.
Van die films wat hulle reeds gekry het om te vertoon, sê Reine: “Die kortfilms is so divers, ons sien uit om dit vir mense te wys.”
Verhale, dokumentêre prente en animasiefilms (almal 30 minute en korter) van die wêreld oor en in elke soort genre sal te sien wees. Die inskrywings word deur ’n Suid-Afrikaanse paneel beoordeel word en die goedgekeurde films sal by die fees in Augustus gespeel word.
Klik hier vir meer inligting.
Lees nou
The post Pretoria kry ’n filmfees – danksy 3 bekende vroue! appeared first on SARIE.