Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Amalia Uys speel in film wat binne 48 uur gemaak is!

$
0
0

Ja, die rolprent Infidel waarin Amalia Uys speel, is in net 48 uur gemaak.

Die spanne wat inskryf vir die “48 Hour”-rolprentkompetisie het basies 48 uur om ’n rolprent te skryf, te verfilm, te redigeer en in te gee. Desmond Denton, die regisseur van Infidel, verduidelik dat die kompetisie oor die hele wêreld gehou word, maar hulle is deel van die Kaapstad-wedstryd.

Hoe werk die proses om die rolprent so blitsig te kan maak? Die spanne wat inskryf, trek elkeen ’n kaartjie waarop ’n spesifieke genre aangedui is, en sy span het “detective” getrek. Maar hulle kry nog drie ander bestanddele wat hulle in die rolprent-koek moet gebruik: ’n karakter, ’n spesifieke rekwisiet en ’n reël dialoog. In hul geval was die rekwisiet ’n spade en kon hulle dit letterlik vertolk het as ’n graaf, of andersins kon dit ook die kaart wees. Hulle reëltjie dialoog was “I’ve never seen that before.” En die karakter was Samuel of Samantha, the librarian. Met hierdie bestanddele en die ander wat hulle byvoeg, moet hulle dan ’n 7-minuut-rolprent maak. Maar, vertel Desmond, hy het geweet hy gaan inskryf en het sommer vooraf gesprekke met akteurs gehad en gevra of hulle deel van so ’n projek wil wees. Omdat hy nie vir hulle kon sê presies wat hul rolle sou wees of wat hulle gaan doen nie, moes hulle hom vertrou.

Amalia as Lucy in Infidel. FOTO: verskaf

Amalia as Lucy in Infidel. FOTO Zahnel de Abreu Fotografie

Amalia Uys is Lucy, die geheimsinnige vrou in die rolprent.
Sy sê die 48 Hour-projek is ’n wonderlike platform vir aspirant-filmmakers.
“As jy een van die akteurs is, sal ek sê die grootste uitdaging is om ’n geloofwaardige karakter basies ‘on the spot’ te kan skep. Jy moet, sodra jou span weet wat die genre is, onmiddellik aan kostuum en grimering begin werk. Terwyl dit gedoen word, skryf die skrywers. Sodra daar ’n teks is, moet jy woorde leer, repeteer en dan skiet jy. Alles gebeur baie vinnig en jy moet gemaklik wees en selfvertroue hê met die proses. Ons span, Imagineheart Films en regisseur Desmond Denton, was so voorbereid as moontlik. Ons het ’n genre gekry wat perfek gepas het by die kernkonsep en alles het baie vlot verloop. Ons het deur die nag geskiet en was die res van die naweek baie moeg. Maar dis alles die moeite werd!”

Greg Kriek speel ook in Infidel. FOTO: verskaf

Greg Kriek speel ook in Infidel. FOTO Zahnel de Abreu Fotografie

Vir Desmond en die akteurs Amalia Uys, Greg Kriek, Bjorn Jorg Walter Steinbach, Auriol Hays, Rudolph Faurie, Storm Barry, Johan Jordaan, Arina Le Roux en Mishka Patel was dit maar twee dae van min slaap.

“Dit was stresvol, want ons het in groot formaat geskiet en toe moes ons dit omskep en dit vat lank. Maar ons wou hê die film moet van hoë gehalte wees. Die storie is Engels omdat die lyn wat ons gekry het Engels was,” het Desmond gesê. Hy was die medeskrywer saam met drie ander hoofskrywers. Aanvanklik het 40 spanne die uitdaging aangepak, maar net 26 spanne het hul rolprente binne die toegelate tyd voltooi.

Op die stel van Infidel. FOTO: verskaf

Op die stel van Infidel. FOTO Zahnel de Abreu Fotografie

Hulle het uiteindelik ’n kort speurverhaal gemaak waarin ’n speurder en ’n misdaadfotograaf die dood van ’n geheimsinnige jong vrou ondersoek.

Kyk hier na die lokprent.

Volgens Desmond is die projek ’n toets vir die span se vermoë om saam te werk om ’n rolprent binne 48 uur te maak. Maar, sê hy, dis ’n fantastiese gevoel as die span dit regkry.

Op die stel van Infidel. FOTO: verskaf

Op die stel van Infidel. FOTO Zahnel de Abreu Fotografie

 

EKSKLUSIEF VIR SARIE-LESERS

‘n Aand saam met Amalia Uys en verskeie sterre van die rolprentbedryf. Kom woon die éérste première van Sy Klink Soos Lente by en geniet ’n aand van goeie vermaak!

sy klink soos lente premiere

Koop kaartjies by Computicket http://bit.ly/2bsB1RW. Jy sal nie spyt wees nie! King Price Insurance

The post Amalia Uys speel in film wat binne 48 uur gemaak is! appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294