Gister het ons die 10 Voorbladgesig-finaliste verras toe hulle deel van ons #SARIEkrismis-fotosessie was! Vanaand maak ons die wenners van die wedstryd bekend. Het jy jou gunsteling?

Agter die skerm by ons #SARIEkrismis-fotosessie met ons Voorbladgesig-finaliste
FOTO Willie Koen
Leer ken Alma Neethling beter
(23) GEHALTE-BEAMPTE, BREDASDORP
Is jy ’n vurige rooikop?
Ek is positief met hope energie en laat nie geleenthede verbygaan nie.
Hoekom wil jy op die voorblad wees?
’n Vriendin het my ingeskryf. As plaasmeisie van die Overberg is dit nie eintlik my scene nie, maar ek is dankbaar dat ek in die top-10 is.
Vertel meer van die plaaslewe.
Ons drie kinders, Japie (20), wat rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer, en Johan (14), ’n leerder aan Paarl Gimnasium, het wonderlike tye op ons plaas, Potteberg, gehad. Ons het ook ons eie plaaswinkeltjie bedryf. My pa, Neil, het ’n gemengde boerdery.
En toe swot jy landbou op Elsenburg?
Almal het gesê ek moet onderwys gaan swot, maar ek is passievol oor landbou. Elsenburg was van die wonderlikste jare in my lewe. Daarna het ek bemarking studeer. Nou werk ek vir ’n sagtevrugtemaatskappy waar ek die gehalte van onder meer tafeldruiwe en sitrusvrugte inspekteer.
Wil jy trou en kinders hê?
Ek wil trou met ’n boer en drie kinders hê!
Is jy lief vir Afrikaans?
My taal is my trots. Woorde soos “vrolikheid”, “fantasties”, “lag”, “melktert”, “braaivleis” en “boerekos” is vir my mooi. Ek luister nét RSG en Bok Radio – Karlien van Jaarsveld, Juanita, Theuns Jordaan … En ek dans vas.
Ons ander Voorbladgesigte:
The post Voorbladgesig-finalis: Alma Neethling appeared first on SARIE.