Met die eerste groen botsels wat uitkom, is dit nou die tyd om in te spring en aandag aan jou tuin te gee. Al woon jy in ’n woonstel, is daar altyd plek vir ’n pot met iets groens. Jy kan gerus ’n potplant of twee plant, όf ’n paar kruie in jou vensterbank sit. Onthou, ’n dik laag kompos is die beste medisyne vir ’n mooi tuin of pot.
1. Groentetuin
As jy ’n groentetuin beplan, hou in gedagte dat dit tyd, water en BAIE kompos verg. Maak dit funksioneel met kleiner beddings en paadjies van grysklippies sodat jy maklik kan loop tussen die verskillende areas. Plant stinkafrikaners tussen die groente, want dit dien as natuurlike afskrikmiddel vir insekte.
2. Lok voëls
Hang iets interessants in jou tuin op waarin jy voëlsaad kan sit. Dis heerlik om dop te hou hoe die voëltjies kom saad pik. Grasperke moet nou gereeld gesny word om ontslae te raak van wintergrasse en onkruid. Strooi organiese komposkorrels wat nie die gras sal brand nie.
3. Pot-installasie
’n Potterak op jou woonstel se balkon kan ure se plesier verskaf. Goeie plantkeuses is malvas, laventel en vetplante. Gebruik vloeibare plantvoedsel om dit gereeld mee te voed.
4. Plante in groot potte
Plante in potte is geneig om ná ’n lang ruk te verpot. Dis nou die tyd om dit uit te haal, te verdeel en nuut te plant. Was die binnekant van elke pot mooi skoon en plaas ’n laag spoelklippies onderin. Gebruik nuwe potplantgrond en meng dit met ’n paar hande vol kompos en ’n bietjie beenmeel. Woel die plantwortels effe los voor jy dit weer plant. Maak goed nat.
5. ’n Pottetuin
’n Verskeidenheid plante maak ’n mooi pottetuin. Hier’s ’n oulike plan met 5 potte. Vul elk driekwart met potplantgrond en stapel opmekaar. Kompakteer die stapel sodat dit stewig staan voordat jy begin plant. Plant vetplante en waterwys grondbedekkers al om die rande. Hier is woestynrosies, sedum en crassula gebruik.
Lees nou
The post 5 tuinwenke vir lente appeared first on SARIE.