Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Meryl terug by TV

$
0
0

Vir ’n geruime tyd sien ons al hoe meer dat groot name van Hollywood, die A-lys-akteurs, in TV-reekse speel.

Onlangs het Meryl Streep aangekondig dat sy wéér na TV gaan terugkeer. In 2003 het sy in die reeks Angels in America verskeie karakters gespeel, waarvoor sy ’n Emmy-toekenning ontvang.

FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Nóú gaan sy in die reeks “The Nix”, wat op Nathan Hill se gelyknamige topverkoper-boek gebaseer is, speel. Die reeks handel oor ’n skrywer en sy vervreemde ma, berig Itechpost.

Party beskryf dit as die renaissance van TV, met ander Oscar-benoemdes wat ook in kort reekse verskyn óf wat seisoen na seisoen te sien is in groot reekse op die klein kassie. Dink net aan die Oscar-benoemde Viola Davis, wat al vir twee seisoene in Shonda Rhimes se ABC-reeks How To Get Away With Murder speelEn die Oscar-wenner Kevin Spacey wat die rol van die antagonis vertolk in die Netflix-reeks House Of Cards.

In 2014 het Viola tydens die invloedryke Television Critics Association se jaarlikse mediatoer die volgende gesê oor haar besluit om TV-werk te doen:

“Dit was die materiaal wat my aangetrek het. Ek dink dinge het verander. Om TV te kies sal nie meer ’n impak op jou loopbaan hê nie. Ek wou ’n karakter vertolk wat my uit my gemaksone neem. En die logiese besluit, as aktrise, was om hierdie rol te aanvaar.”

Ander akteurs soos Kevin Bacon, Matthew McConaughey, Colin Farrell, Jessica Lange, Woody Harrelson, Robin Wright en Rachel McAdams het ook al in TV-reekse of mini-reekse verskyn.

FOTO: Jason LaVeris/FilmMagic

FOTO: Jason LaVeris/FilmMagic

In die 1950’s het Hollywood se rolprentbedryf swaargekry omdat televisie tóé die gewilde medium vir vermaak was. Die tydperk tussen 1947 en 1960 word beskou as die goue era van televisie. Groot rolprentname het spesiaal TV-produksies geskep. Die regisseur sir Alfred Hitchcock het met die reeks Alfred Hitchcock Presents vorendag gekom en selfs Walt Disney het TV-programme gemaak. Die oorspronklike The Twilight Zone-reeks het mense vasgenael gehou voor hul televisiestelle.

Kyk Hitchcock se snaakse inleiding vir sy TV-reeks:

En met die soort renaissance wat TV nóú beleef, kies groot name soos Winona Ryder om haar Hollywood-terugkeer met ’n buiging op TV te maak. Sy speel in die Netflix-treffer Stranger Things.

FOTO Facebook / Winona Ryder

FOTO Facebook / Winona Ryder

Tog meen die Suid-Afrikaanse rolprentfotograaf Dan Mindel, wat in Hollywood werk met groot name soos regisseurs/vervaardigers Ridley Scott en J.J. Abrams, dat die rolprentbedryf nooit tot niet sal gaan nie.

“Solank dit goedkoop is om bioskoop toe te gaan, sal mense gaan. Daar is iets samehorigs omtrent fliek toe gaan. Iets magies,” het hy tydens kykNET se Silwerskermfees in Kampsbaai gesê.

Bronne: Variety, CNN, Variety

The post Meryl terug by TV appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294