Hy het oornag ’n internet-sensasie geword met sy vertolking van Afrikaanse liedjies. Nou het sy eerste CD, My hart bly in ’n taal, platinum status behaal. Refentse Morake van Vereeniging wil in Afrikaans brûe bou en bande smee.
“Ek is baie lief vir Afrikaans, dit is my hartstaal en ek druk myself die beste daarin uit. Die album bestaan uit twaalf liedjies, waarvan twee uit my eie pen is. Daar is ook verwerkings van onder meer “Die spook van Uniondale” en “Ou Ryperd”, asook tre ers van sangers soos Steve Hofmeyr, Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis. Ek sing oor verlore liefde, dinge waarna ons verlang – goed wat ons almal ken.”
Hoe het dit gekom dat jy so uitstekend Afrikaans praat?
Die enigste goeie laerskool destyds naby ons huis op ’n plot was die Laerskool Voorwaarts in Meyerton in die Vaaldriehoek. Ná graad twee was ek ’n leerder aan die Laerskool Unitaspark in Vereeniging en van daar is ek na Vereeniging Gimnasium.
Ons huistaal is Sesotho en my ouers, Pule en Maditlare, kan nie ’n woord Afrikaans praat nie. Tale is egter my passie en ek kan onder meer Zulu, Xhosa, Tswana en Pedi praat.
Maar buiten dat ek in Afrikaans musiek maak, is dit vir my ’n lekker taal om in te kommunikeer. Ek is mal oor die woorde “surrealisties” en “kens”. En ek hou van Afrikaanse televisie – veral om te sien hoe mense verlief raak op Boer soek ’n vrou (kykNET)!
Het jy altyd geweet jy wil sing?
Kleintyd wou ek die president van Suid-Afrika word. As gr. 12-leerling aan Vereeniging Gimnasium verlede jaar het Cecilia Marchionna, ’n tannie in ons straat, my voor die huis sien kitaar tokkel. Sy het ’n video gemaak en op Facebook gelaai, waar dit 120 000 likes gekry het. Ek is nou agtien en nog baie nuut in die bedryf, maar ek leer daagliks by soveel mense en is nog nie een dag spyt oor enigiets in my loop- baan nie. Ek en die tannie is vandag baie na aan mekaar en sy kom gereeld na my konserte.
Watter rol het jou ouers in jou lewe gespeel?
My pa, ’n skoolinspekteur, en my ma, ’n produksiebestuurder, het betaal vir lesse in kitaar, baskitaar, tromme en klavier. Hulle het my en my tweelingbroers (11) en sussie (6) se belange altyd bo hul eie gestel, goeie geldelike voorsiening gemaak en soms baie lang ure gewerk om ons alles te kan bied wat hulle nooit kon ervaar nie. My ouers is werklik goeie rolmodelle.
Ek het ook ’n ruk lank by my wonderlike ouma, Elizabeth Mosia, gewoon toe my ouers stad toe moes trek om daar te werk. Sy is, tot my groot hartseer, in 2013 dood aan kanker en ek dink altyd aan wat sy my als geleer het …
Wie bewonder jy?
Mense wat ander waardeer – al verskil hul sienswyses.
Hoe het dit gebeur dat jy verlede jaar saam met Karen Zoid by die KKNK gesing het?
Ek het op die sypaadjie gebusk in Oudtshoorn se hoofstraat. Sy het ’n R10 in my kitaarkissie gegooi. Ek het gedink dit is sy, maar reken toe, dalk verbeel ek my… Die aand is ek deur die feesbestuur aan van die kunstenaars voorgestel. Toe sê sy dit was sy wat die R10 ingegooi het en nooi my om saam met haar op te tree. Ek sing toe “Meisie sonder sokkies” van David Kramer en “Take Yours, I’ll Take Mine” van Matthew Mole op haar konsert. In daardie stadium was ek nog nie juis gewoond aan optredes nie. Sy het my geleer jy moet nie net musiek sing nie, maar ook met jou gehoor praat.
Luister hoe mooi sing Refentse:
– Dié onderhoud het oorspronklik in SARIE se Oktober 2016-uitgawe verskyn.
Lees nou
The post Refentse: Afrikaans, my hartstaal appeared first on SARIE.