Bravo! en Heart 104.9fm se Tracey Lange en haar kêrel, Avukile Mabombo, reis die wêreld plat. Wel, dis hoe dit lyk as ons na hul blog, Travul Diary, kyk. Die twee het ’n reisblog begin en deel hul inskrywings weekliks met ons!
Tracey Lange is een van ons gunsteling-televisie- en radiopersoonlikhede en ons geniet dit om na haar en die mooi Europese tonele te kyk. Sy en Avukile skryf op hul blog oor nuwe restaurante, verblyfopsies, begrotings, reis-administrasie en meer; alles van hier in SA tot ver oor die water.
Op 28 September het hulle hul kuier in die Rynvallei op Travul Diary gedeel. Lees hier en kyk na die pragtige foto’s.
Tracey skryf:
Hierdie is die deel waar die Expat Explore, Jewel Tour, amptelik afskop. Ons was reeds in Amsterdam, waar die groep weggespring het, daarom beskou ons die Rynrivier as die begin van ons toer saam.
’n Bietjie inligting oor Expat Explore: twee Suid-Afrikaners het die onderneming begin. Hulle het deur Europa getoer toe hulle jonger was en natuurlik agtergekom hoe duur alles was. Toe begin hulle hierdie maatskappy wat ongelooflike toere aanbied teen ’n fraksie van die prys.
Ek het voorheen al saam met hulle gereis en dit goedgedink om Boyfriend ook op een van hul toere saam te neem. Hulle is uitstekend georganiseerd, die verblyf is goed en hulle kyk baie mooi na jou. Daar is talle opsionele ekstras en toere om uit te kies. Ons het op die Jewel Tour besluit sodat ons vir die eerste keer plekke saam as ’n paartjie kan besoek.
Boppard in die Rynvallei herinner jou aan ’n kinderboek se prentjies. Dit voel byna of hierdie klein dorp met sy keisteen-paadjies gebou is deur Hollywood-vervaardigers. Adorable klink dalk neerhalend, maar ek belowe dit is nie wat ek bedoel nie. Dié dorpie is regtig adorable! Dit is nie intimiderend nie en ook nie oorweldigend nie, dis net oulik en ek wens ek kon alles in ’n foto vasvang.
Boppard, wat eens ’n Romeinse fort was, lê in die Vallei van Lorelei. Dis deel van die boonste helfte van die middel-Rynvallei wat in 2002 tot ’n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar is. Dit beteken dit is in dieselfde kategorie as die piramides van Egipte, die Grand Canyon in die VSA en die Taj Mahal in Indië!
In Boppard het ons wyn geproe, onder meer Eiswein, ’n soetwyn. Boyfriend het so baie van die wyne gehou dat hy ’n boks van die Loreley Cuvee & Riesling Spätlese bestel het. Daarna het ons nagereg by een van die roomyswinkels geëet en ook by die Cuckoo Clock Shop gaan inloer. Op die georganiseerde bootrit aan die einde van die dag het ons die res van die groep bietjie beter leer ken.
Ons het by die Rheinlust Hotel ingeboek, reggemaak vir aandete en daarna … karaoke! Aandete was ’n mengsel van tradisionele Duitse kos en “internasionale” geregte, m.a.w. alles wat ons ook by die huis eet, maar ek hou daarvan om myself in ’n land se kultuur en tradisies te verdiep en het net Duitse kos geëet.
Ná aandete het almal die karaoke geniet. Die aanvanklike skaamte het verdwyn toe almal besef ons is met vakansie, die normale reëls geld nie en niemand wil iets misloop nie!
NS. Dankie aan ons vriend Robbie Rabie vir die foto’s.
Lees nou
Tracey Lange en haar kêrel deel vakansiefoto’s!
The post Tracey deel nog foto’s; kyk hoe mooi is die Rynvallei! appeared first on SARIE.