Ons het Tannie Poppie leer ken in kykNET se kookreeks Kokkedoor. Sy het ons harte gesteel met haar eerlike manier van kook en sy het ons aan ons eie ouma herinner.
Haar droom was om ’n resepteboek te publiseer en in 2014 het Tannie Poppie kook (Human & Rousseau) die lig gesien.
Ná 2 jaar is sy nou terug met haar tweede boek, Tannie Poppie kook weer (Human & Rousseau). Ons het gaan hoor hoe gaan dit met ons gunsteling-tannie.
Hoekom het Tannie weer ’n boek geskryf?
Want ek het nog ’n kontrak van Human & Rousseau gekry! Nee, my storie oor kos is nog lank nie klaar nie en ek het nog baie resepte om te deel.
Hoe verskil dié boek van die eerste een?
Die boek is bietjie meer vernuwe om seker te maak die jongmense kan saamkook. Daar is ook ’n paar resepte wat ek reken nog nooit iewers gepuliseer is nie: my avokado-sjokoladekoek en resepte met papaja.
Wat moet ek eerste maak?
Die beetkoek! Dit is baie mooi as jy dit oopsny, dit lyk nie soos ’n rooifluweel-koek nie, want jy sien die stukkies beet in die koek.
Wat is jou heel gunsteling-resep?
Die papaja-konfyt. Daar is 5 variasies: een met brandrissie, steranys, gemmer, grenadella en gewoon. My gunsteling is die een met brandrissie.
Ek hoor Tannie het nou ook jou eie wyn?
Ja, die wyn se naam is Poppie-lêr! Dit word gemaak deur Lyntonpark wyne by Wellington. Die etiket van die wyn is my heel eerste resep wat gepubliseer was, die taai hoendervlerkies in SARIE KOS. Ek het dit met die hand oorgeskryf en die etiket is daarvan gemaak.
Hoekom wou Tannie wynmaak?
Ek het gelees die wyn waarmee jy kook moet so goed wees dat jy dit wil drink. So nou is daar goeie kookwyn én goeie drinkwyn!
Watter soorte wyn is in die reeks?
’n Chenin blanc, soet rosé en cabernet sauvignon.
Is daar nog boeke op pad?
Oh hel, ek weet nie! Maar ek het nog baie resepte wat ek met mense wil deel.
Die Poppie-lêrste pampoentert
Dié pampoentert van tannie Poppie is een van ons gewildste resepte op SARIE.com. Ons het dit reeds in 2013 gepubliseer, maar weekliks is daar lesers wat dit maak.
Klik hier vir Tannie Poppie se gewilde pampoentert-resep!
Lees nou
Freakshakes: ja, dis ’n regte woord!
VIDEO: Boerewors-pastei vir aandete
Spaar só geld in die kombuis: 4 celebs deel hul geheime
The post Tannie Poppie kook weer (met haar eie wyn ook) + haar gewildste pampoentert-resep! appeared first on SARIE.