“Eerlik, rou, sonder pretensie,” beskryf Karlien van Jaarsveld die TV-program Bobby en Karlien: In jou skoene. Dié bekende broer en suster nooi ons om deel te word van hul wêreld vanaf Woensdag, 11 Januarie, op die leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147).
Dié program is nie net nog ʼn werklikheidsreeks soos Keeping Up with the Kardashians of The Osbournes nie.
Bobby en Karlien se lewe word gedokumenteer ja, en ons gaan beslis in hul private wêreld ingenooi word. Maar in elke episode word die twee deur hul naaste familielede uitgedaag om sekere take te verrig en ander mense in die proses te help. Dít is niks vreemds vir die Van Jaarsvelds nie, want hulle is al vir lank betrokke by liefdadigheidswerk. Nou word ons genooi om te kyk wat hulle doen.
In een episode, byvoorbeeld, stuur Karlien se ma, Ronel, haar om ’n naweek saam met Ronel se huishulp in ’n township deur te bring.
“Ek, hul pa en hul ouma is net nou en dan deel van die reeks,” vertel Ronel, “Daar word onderhoude met ons gevoer oor Bobby en Karlien se aktiwiteite. Die werklikheidsreeks gaan daaroor om ʼn verskil te maak.”
Daar is al ʼn geruime tyd praatjies en onderhandelings om Bobby en Karlien saam in ʼn TV-reeks te kry. Ronel wou nie gehad het dit moet ʼn “plastiek-program” wees nie. Dit moes eerder iets spesiaals wees.
“Dit moet ’n verskil maak aan mense se lewens, en ook ’n verskil aan Bobby en Karlien se eie lewe. Die reeks het ʼn boodskap van omgee vir mekaar,” sê sy.
Gaan ons die ware Bobby en Karlien sien?
“Ons gaan meer as die ware Bobby en Karlien sien,” sê Ronel. “Ons vorm maklik ʼn persepsie van iemand en 99% van die tyd is dit nie die waarheid oor wie en wat daai mens is nie. Ons is almal skuldig daaraan. Ons kry ʼn idee in ons kop oor iemand en glo dit.”
Karlien sê: “In die reeks voel ek vir die eerste keer gemaklik en net myself. Ons kan net wees wie ons is en niemand kan ons woorde verdraai nie. Dis eerlikwaar die gunsteling-ding wat ek nóg in my loopbaan gedoen het, dis my passie. Mense wat swaarkry consume my hele hart en dis waar ek wil wees: Hoe hulle lewe, wat hul storie is. Ek is absoluut mal oor al die mense wat ek ontmoet, want dis waaroor die lewe regtig gaan, eerlik, rou en sonder pretensie.”
Lees nou
Jou gids vir die super-supermaan
VIDEO: Ons Desember-voorbladster gesels skoonheid
The post Bobby en Karlien se nuwe avontuur appeared first on SARIE.