Mari Rabie is die Suid-Afrikaanse driekampatleet wat ons tydens vanjaar se Olimpiese Spele veral die asem laat ophou het. Sy was een van die voorlopers ná die 1,5 km-swem- en 40 km-fietsgedeelte van die driekamp, maar het tydens die 10 km hardloop-gedeelte uitgesak.
En dis uitstekend, aangesien Mari met chroniese hartprobleme sukkel en vir 10 maande voor die Spele nie voluit kon oefen nie. Nou kan sy spog dat sy die elfde beste driekampateleet ter wêreld is, met ’n tyd van 1:59.13.
Ons gesels met haar.

FOTO Casey Crafford
Hoe’t jy gevoel toe … jy Olimpiese Spele toe gaan ná ’n lang siekte en nie voluit kon oefen nie?
“Ekstaties, bevoorreg en dankbaar. Dit was ’n moeilike tyd. Dis aaklig om te sien hoe onfiks jy word en hoe jou Olimpiese droom elke dag ’n bietjie verder van jou af wegglip – dit mors met jou kop. Chroniese hartprobleme sou seker ’n billike rede wees om uit te tree, maar so baie mense het my aangemoedig om teen die oormag te stry – ek sal ewig dankbaar wees vir hul ondersteuning en geloof.
Dit was ’n groot verligting om vir die Spele in Rio te kwalifiseer ná my Beijing-teleurstelling (sy het daar 43ste geëindig ná tegniese probleme met haar fiets), my studies in Oxford en die gesondheidsterugslae.
Ek wou graag ’n positiewe Olimpiese ervaring gehad het – toe ek kwalifiseer, het ek daardie geleentheid gekry om vir myself te bewys ek kan op die hoogste vlak meeding.
By die Spele verloor baie atlete al die kompetisie voordat dit begin het. Ek was regtig rustig – ek het my ouers vlugtig voor die kompetisie gesien en het aan my pa gesê ‘Hoekom is jy so bekommerd, Pa? Dit gaan OK wees, die harde werk is gedoen’. My ouers was daar in Beijing en het gedeel in my pyn van ’n gebroke droom en gesien hoe die Beijing-mislukking my verskeur het. Rio was maar vir almal ’n emosionele storie.
Ek dink die lesse wat jy in sport leer, is definitief van toepassing op ander terreine van die lewe. Sport is wispelturig: jy misluk baie en jy leer om die trane af te vee, die hartseer te sluk, objektief daaroor te dink en weer te probeer – sport leer jou om vas te byt.
En jy kry nie regtig ’n beter gevoel as om aan die Olimpiese Spele deel te neem nie. Ek het dieselfde gevoel gekry toe ek die Suid-Afrikaanse Rhodesbeurs gewen het. Dan vra jy jouself ‘het ek dit sopas gedoen?’ Dis lekker as jy jouself verras.”
Mari het vir eers haar drafskoene opgehang, werk voltyds by ’n beleggingsmaatskappy en fokus daarop om haar aktuariële eksamens klaar te maak. Boonop het sy saam met haar vriendin Annelize Kotze die handelsmerk MOVEPRETTY gestig wat athleisure-klere verkoop – dis oefen-en-gemaksklere vir oefening én ontspanning.
Mari se filosofie: Jy kan jou nie laat verswelg deur terugslae nie, jy moet dit sien as ’n uitdaging. Probeer net elke dag dinge doen tot die beste van jou vermoë en die eindresultaat sal kom. Doen dinge wat jou lewe interessant maak.”

FOTO Casey Crafford
Lees nou
Kyk die hoogtepunte van die Olimpiese Spele
Sunette Viljoen: “Ek het baklei vir my medalje”
The post Hoe’t jy gevoel toe … jy Olimpiese Spele toe gaan ná ’n lang siekte? appeared first on SARIE.