2015 was ’n spesiale jaar vir Portia Moemedi. Daardie jaar was sy ’n finalis in SARIE se Voorbladgesig-kompetisie en het sy ook onder die top-100 geëindig in ’n SAUK-kompetisie waarin die uitsaaier nuwe gesigte gesoek het.
En só is ’n ster gebore. Vandag is Portia mede-aanbieder van die avontuurprogram Outentiek wat Woensdae om 19:30 op SABC2 uitgesaai word. Sy bied die program aan saam met die sanger Mathys Roets. Dertien episodes is reeds opgeneem, waarvan 11 uitgesaai is. Die program is eers van die lug af om plek te maak vir die Afrikabeker-sokkertoernooi, maar die laaste twee episodes sal na afloop van die toernooi in Februarie gesien kan word. Vanaf Maart word die volgende 13 episodes opgeneem. Portia het dus tans ’n ruskansie en is rustig by haar nuwe huis in Sandton, Johannesburg.
“Ek het in 2015 deelgeneem aan die SABC Presenter Search-kompetisie en was in die top-100. Maar verlede jaar kry ek ’n oproep van die SAUK wat vra of ek nog ’n oudisie wil doen,” het Portia aan SARIE.com vertel.
Al het sy nie die kompetisie gewen nie, was haar talent onmiskenbaar. Te danke aan daai einste kompetisie is sy deur die span van die SABC2-program Pasella genader om ’n oudisie af te lê om een van húl aanbieders te word. Sy het dit so byna gekry. Maar vir Portia was dit third time lucky. “Die vervaardigers van Outentiek het my oudisie-band vir Pasella in die argief opgespoor en só het ek die werk as aanbieder van Outentiek gekry.”
Die wag was die moeite werd. En vandag geniet Portia haar werk by Outentiek gate uit, veral die buitelugaktiwiteite wat sy moet doen as deel van die inhoud vir die program.
“Ons word voor allerlei uitdagings gestel wat mense normaalweg nie sal doen nie, of jy nou ’n parapleeg is soos Mathys of nie. Mathys doen alles wat hy moontlik kan. Ek self word partykeer baie bang. Dan sien ek hoe hy iets doen en dit gee my moed en ek dink as hy kan, kan ek. Ek is bly oor alles wat ek ervaar het, maar iets soos reksprong het ek net die een keer gedoen en wil dit nooit weer doen nie! Vir Mathys is dit ongelooflik lekker. Ek het wel van ons valskermsprong gehou. Dis byna spiritueel, ek kan dit nie beskryf nie.”
Portia se afro-haarstyl as SARIE Voorbladgesig-finalis was een van haar uitstaande kenmerke, maar nou spog sy met ’n nuwe haarstyl.
“Ná ses of sewe jaar was ek moeg vir my haarstyl. Ek het dit eers net ’n paar sentimeter kort op my kop gesny. En toe áls afgeskeer. Nou groei ek weer my afro! Ek gaan ’n YouTube-kanaal begin waar ek vir kykers die proses wys hoe dit gedoen word.”
Lees nou
Dié Spice Girl se tweede baba is gebore
Meubileer só jou eenkamerwoonstel
The post Van Voorblad-finalis tot TV-ster: Portia Moemedi gesels appeared first on SARIE.