Ons gesels met oudpres. Nelson Mandela se persoonlike assistent Zelda la Grange in die Maart 2017-uitgawe van SARIE. Hier volg ’n kort uittreksel.
Die boodskap van Zelda la Grange se praatjies, soos die een wat sy by die #SARIEfees lewer, is dat enige verandering by jouself begin.
“As ek nie aan myself gewerk het nie, sou ek niks vermag het nie. Die maklikste ding op aarde is om eerder net op te gee wanneer iets moeilik is.”
En dis veral van toepassing in die huidige politieke klimaat in Suid-Afrika, sê sy.
“Enige mens raak soms negatief en dan dink jy jy wil eerder net niks meer met die land en sy probleme te doen hê nie. Maar het jy al anders oor dinge probeer dink?”
“Ons doen nie genoeg moeite om dinge uit die ander ou se oogpunt te sien nie. Hoe moet dit wees om in absolute armoede te leef, soos die meeste mense in Suid-Afrika? Rassisme is nie ’n daad nie, dis ’n denkwyse – iets wat jy aangeleer het en dus kan afleer.
“Maar jy moet jouself kondisioneer om aan ander mense te dink en nie net aan jou eie behoeftes nie. Dit kom nie natuurlik nie. Dis ’n oorlewingsinstink om foute te sien, sodat jy daarop kan verbeter of dit kan vermy. Maar die lewe kan nie vandag meer so werk nie. Dit verg moeite om nuwe gewoontes aan te leer en ons almal moet elke dag nadink oor ons denkwyses.”
Kom luister na Zelda la Grange by SARIE se fees op 16 Maart om 10:00 by die Atterbury-teater, Lynwoord Bridge-winkelsentrum in Pretoria. Kry jou kaartjie by Computicket, klik HIER.
Lees nou
Zelda la Grange: Verandering begin by jouself
Zelda la Grange: Ek vra om verskoning vir kwaai Zelda
The post Zelda la Grange: Verandering begin by jouself appeared first on SARIE.