Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Zelda la Grange: Verander jou manier van dink

$
0
0

Ons gesels met oudpres. Nelson Mandela se persoonlike assistent Zelda la Grange in die Maart 2017-uitgawe van SARIE. Hier volg ’n kort uittreksel.

Madiba se invloed het naderhand haar eie manier van dink verander, vertel sy.

“Ek onthou eenkeer toe ’n Mej. Wêreld hom wou ontmoet. Kyk, hy het ’n oog vir ’n mooi meisie gehad, en het ingestem. Maar hy het toe nog nie daardie jaar se Mej. Suid-Afrika ontmoet nie en ek het dit vir hom genoem.

“Regverdigheid was vir hom alles, en hy het die afspraak toe uitgestel.

“Vir jare het hy daaroor aangegaan en gesê ‘Zelda advised me so well’. ’n Mens sou sweer ek het ’n wêreldoorlog gestop! Maar dis omdat ek sy maniere aangeleer het.”

Tog, sê sy, gee Suid-Afrikaners hulself nie genoeg krediet nie. “Madiba het altyd gesê 1994 was moontlik as gevolg van gewone mense in Suid-Afrika. Ons wil dit verpolitiseer, maar dit sou eintlik een onverantwoordelike gewone ou gevat het om aan te jaag en ons sou dan die land afgebrand het.”

“Die laaste ruk is ons weer daar – dit voel asof mense wil laer trek, maar jy moet jouself uit jou groepie verwyder om die ander se kant ook te sien, sodat ons ’n eenheid kan vorm.”

Sy raak eers ’n oomblik stil, skuif haar groot swartraambril terug op haar neus, kies haar woorde mooi.

“Ek gaan mense nou weer kwaad maak, maar kyk … Ons moet ook ophou dink ons trots as Afrikaanses word in een ding omvat, soos Afrikaanse onderrig op universiteitsvlak. Om internasionaal mee te ding moet jy Engels kan praat. Hoekom dan al die terme in Afrikaans gaan leer?

“Ek is lief vir Afrikaans, maar ek voel glad nie dis bedreig nie – kyk maar hoe goed doen ons musiek- en rolprentbedryf, hoeveel Afrikaanse feeste daar is.”

“Die taal sal net uitsterf as mense dit ophou praat. Hoekom het al die swart tale dan nie uitgesterf in die apartheidsjare nie?

“Ons het nie weer ’n Wêreldbeker-sokkertoernooi nodig om as ’n land saam te staan nie. Een ou dink hy maak nie ’n verskil nie, maar ons beïnvloed mekaar. Moenie wag dat die ander ou eers toegee nie, neem self daai eerste tree. Die geskiedenis het verander deur aktiewe burgerskap. Politici kom en gaan, maar dis die gewone mense wat ’n land laat werk. Dit begin by jou.”

Kom luister na Zelda la Grange by SARIE se fees op 16 Maart om 10:00 by die Atterbury-teater, Lynwoord Bridge-winkelsentrum in Pretoria. Kry jou kaartjie by Computicket, klik HIER.

SARIEfees A1 poster_ZeldaJohrne

Lees nou

Zelda la Grange: Verandering begin by jouself

Zelda la Grange: Ek vra om verskoning vir kwaai Zelda

The post Zelda la Grange: Verander jou manier van dink appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294