Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

SARIE Voorbladgesig-wenner Tana Ferreira: “Vir ewig uit my gemaksone”

$
0
0

Tana Ferreira was in 2013 SARIE se voorbladgesig. Die aand toe sy as wenner aangewys is, het sy gedink: “Nou gaan ek nooit weer kan terugval in my gemaksone nie.” Hier vertel sy hoe die kompetisie haar lewe verander het.

FOTO’S: Leana Clunies-Ross

Dit is gesond om lief vir jouself te wees

Die aand toe sy as wenner aangewys is, het sy gedink: “Nou gaan ek nooit weer kan terugval in my gemaksone nie.” Tana, deesdae ’n assistent- rolprentregisseur, sê sy is gemakliker met haarself danksy dié wedstryd. “Jy moet natuurlik altyd werk aan jou onsekerhede. Maar dít was ’n opbouende ervaring.”

Sedert die wedstryd glo sy dit is gesond om lief vir, en trots op, jouself te wees. “Dis die enigste manier hoe jy iewers kom.” Haar suksesverhaal het ’n interessante kinkel. “My ma, Marieta, het my sonder my wete ingeskryf. En daar beland ek onder die eerste 35. Verstom en effens ergerlik vra ek my ma toe om die inskrywing te onttrek . . .’’

Die hupstoot was nodig

Maar toe sy as een van die toptien finaliste gekies is, wóú sy die geleentheid aangryp. “Dinge gebeur vir ’n rede. Die hupstoot was nodig nadat ek my graad in inligtingsontwerp aan Tuks verwerf het.’’ Nadat sy as Voorbladgesig aangewys is, het die sanger Bouwer Bosch haar genader om deel te wees van ’n musiekvideo. In 2013 speel sy toe ook in die kortfilm Vrek, vertoon by die kykNET Silwerskermfees.

“Tussendeur het my wanderlust ook ingeskop. In 2014 het ek ’n jaar lank as lugwaardin vir die lugdiens Emirates gewerk en in Doebai gewoon. Dit was wonderlik om die hele wêreld te sien, maar ’n reuse-kultuurskok. In daardie dele moet ’n vrou maar haar plek ken.”

Ek het besef waar my passie lê

Maar sy het besef sy is eintlik verlief op die vermaakbedryf. “Dit is so cool om deel te wees van ’n produk waar almal se insette nodig is om iets amazing te skep.” In die kortfilm Love Psyche – ’n stilfliek – wat in 2015 by die kykNET Silwerskermfees en by buitelandse filmfeeste vertoon is, het sy die rol vertolk van Marceline, ’n reeksmoordenaar.

Sy het verlede April ook as garderobe-bestuurder begin werk, onder meer vir SABC3. “Ek het baie op stel geleer, en myself uiteindelik opgewerk tot ’n assistent-regisseur, ’n opwindende, uitdagende werk.” Tana het ook haar eie onderneming begin onder die handelsmerk Die Kaal Konyn, waar sy haar sakevernuf en kunstalent kombineer. Sy verkoop kunswerke van hoofsaaklik naakstudies en abstrakte lynfigure. “Die naam van my besigheid is gegrond op ’n gedig wat ek ’n paar jaar gelede geskryf het, van ’n konyn wat sy pels verloor het en wat homself moes herskep. Dís ook my reis. Dit is nogal baie cool.”

Is jy die 2017 se Voorbladgesig? Skryf hier in!

 

The post SARIE Voorbladgesig-wenner Tana Ferreira: “Vir ewig uit my gemaksone” appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294