Onthou jy nog die wonderlike TV-reeks Konings uit die vroeë 90’s? En die mooi rooikop-karakter Petro (Vlam) Richter? Dan wonder jy miskien wat geword het van Suanne Braun, die aktrise wat bekend geword het danksy daardie rol. Suanne was destyds ook ’n aanbieder op M-Net en het ’n tyd lank die Mej. SA-kompetisie aangebied. En natuurlik was sy ook al op SARIE se voorblad.

Suanne Braun op SARIE se voorblad in 1999.
Suanne het onlangs in SA kom kuier en SARIE het gaan hoor hoe dit met haar gaan. Sy is nog net so mooi soos altyd en kan boonop nog Afrikaans praat. Toe ek haar ’n pluimpie gee vir haar rol in Konings, was haar reaksie: “Dankie vir die kompliment. Dis verbasend hoeveel mense nog Konings en veral Vlam onthou. Dit was definitief ’n hoogtepunt vir my.” En kan jy glo, Suanne het dit sedertdien reggekry om in Londen se bekende teaterdistrik West End as aktrise werk te kry.

FOTO Verskaf
Waar is jy op hierdie presiese oomblik?
Ek sit op ’n bed in my ouers se huis in die Kaap en beantwoord jou vrae. Ek is met vakansie en besoek my familie, vriende en die beeldskone Suid-Afrika.
Waar woon jy tans, en hoe lank al?
Ek woon al die afgelope 15 jaar in Londen. Ek is absoluut mal oor die lewe daar en voel baie gelukkig en dankbaar om in so ’n wonderlike stad te kan woon. Londen is ook baie goed vir my loopbaan.
Hoekom?
Ek het in 2002 van Los Angeles Londen toe getrek toe ek en my man, Christopher Garner, getroud is (hy het in Londen gewoon). Ons het ’n wonderlike sprokiesverhouding en ná 15 jaar saam met hom voel ek steeds dat ek met my prins op ’n wit perd geëindig het. Hy is Rex Garner (die legendariese Suid-Afrikaanse akteur) se seun. So gelukkig verstaan Christopher die teaterwêreld en die lewe van ’n aktrise.

Nog altyd pragtig!
FOTO Verskaf

Suanne deel handtekeninge uit in Atlanta.
FOTO Verskaf
Hoekom is jy weg uit SA?
Ek het ’n kontrak by ’n groot akteursagentskap in Los Angeles gekry. Toe ek dié geleentheid kry, het ek besluit om dit aan te gryp.
Was dit maklik om daar te gaan werk en woon?
Dit was nie maklik nie. Ek het halfpad om die wêreld verhuis. Stoksielalleen. Ek is egter baie bly ek het dit gedoen. Ek was 24 jaar oud en in baie opsigte naïef. Vandag kan ek terugkyk en sien hoe baie ek as mens en aktrise gegroei het.
Wat mis jy die meeste van SA?
My familie. Ek is ook lief vir die reuk van Afrika en die hadedas. Wanneer ek SA toe kom, waardeer ek altyd die soet Afrika-reuk in die lug, die kleure van Tafelberg en die hadedas wat daardie huilgeluide maak as hulle oor my ouers se huis vlieg. Dis gelukkig makliker om vanaf Londen na SA te reis as vanaf Los Angeles.

Suanne en Christopher op hul troudag.
FOTO Verskaf

Suanne (middel) was deel van die West End-produksie van Mamma Mia!.
FOTO Verskaf
Hoe is Hollywood?
Dis ’n vreemde plek. Ek het fantastiese tye daar gehad, en ook aaklige tye. Ek het veral gesukkel met hul gebrek aan belangstelling in enigiets anders as toneelspeel. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is baie lief vir toneel en vir flieks. Ek is dan vandag steeds ’n aktrise. Maar daar is weinig belangstelling in enigiets anders as loketsukses. Ek het dit beperkend en vervelig gevind. Maar ek het ongelooflike vriende gemaak en fantastiese werk gedoen tydens my agt jaar daar. Ek het ook ontdek ek kan mense laat lag en so geleer optree as komediant.
Wat was jou loopbaan-hoogtepunte?
Sover, om een van die hoofrolle (Tanya Chesham-Leigh) in die West End-produksie Mamma Mia! te speel. Ek het ook in Cabaret en in Onassis gespeel, laasgenoemde in die rol van Maria Callas. En om die Funny Bones-toekenning vir beste nuwe komediant te wen.
Wat beteken roem vir jou?
“Fame doesn’t fulfill you. It warms you a bit, but that warmth is temporary.” – Marilyn Monroe.
Suanne het haar eie Twitter-blad: Klik hier.
The post Waar in die wêreld is Konings se Suanne Braun? appeared first on SARIE.