Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Freshlyground se Zolani hou van haar lyf nes dit is

$
0
0

Zolani Mahola, hoofsanger van die internasionaal bekende Suid-Afrikaanse popgroep Freshlyground, het onlangs prettige foto’s van haar laat neem waarin sy haar liggaam vier nes dit is.

Vrouwees beteken vir haar selfaanvaarding, energie en gesondheid, sê sy.

Dié “bestanddele” is ook deel van haar wenresep as vermaaklikheidskunstenaar. In Augustus open die musiekblyspel Calling Me Home, waarin sy een van die hoofrolle vertolk, in die Joburg-teater. En voor die einde van die jaar word Freshlyground se sesde album vrygestel.

Waar bevind sy wat Zolani is haarself nou?

“Ek hoop om al hoe nader aan my doel op aarde te kom om ’n blywende verskil aan my gemeenskap te maak.”

Kyk jy na die fotosessie, waarvan sy al iets gewys het op sosiale media, slaag sy gewis daarin. Dit wys ’n selfversekerde vrou wat weet wie en wat sy is. “Maar dit was nie altyd so nie. Selfaanvaarding is ’n proses,” vertel sy.

Sy sê daar was lang tye in haar lewe dat sy gesmag het na ’n ligter velkleur, dat sy dele van haar liggaam wou verander – kleiner wou hê … “Maar soos ek ouer word, probeer ek dankbaar wees, dinge met grasie aanvaar. Ek besef sekere dinge kan ek nie verander nie, maar ek probeer wel iets doen omtrent dit wat ek kán verander.”

Sy vind dit jammer dat die samelewing soveel klem plaas op liggaamlike “perfeksie” en dat vroue hulself konstant aan dié standaarde meet. Dit is een van die redes hoekom sy 25 kg verloor het ná die geboorte van haar kinders, Zazi (4) en Zen (1) – maar nou verstaan sy selfaanvaarding gaan ook oor gesondheid.

“Ek oefen met ’n fiksheidsafrigter. Gentle training. Ek doen baie strekoefeninge, werk bietjie met gewigte en draf sowat twee keer per week. Ek vermy ook verfynde koolhidrate en suiker.”

Zolani wil haar kinders van kleins af leer om hulself lief te hê, te aanvaar en hul lewensdoel te ontdek.

The post Freshlyground se Zolani hou van haar lyf nes dit is appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294