En deesdae sommer baie wys as dit by liefdesake kom. Dié Boer soek ’n vrou-deelnemer en die nuwe liefde in sy lewe deel verhoudingsraad en vertel van die ongewone manier waarop hul paaie gekruis het (sý het die eerste treetjie gegee …).
Hul vriende beskryf die twee as “vinkel en koljander” en noem hulle sielsgenote. Hul geheim? Melanie Bester, ’n ingenieur van Pretoria, dink dis omdat sy hou van probleme oplos en Derius as boer hou van planne maak, en dís ’n wen-kombinasie vir hul langafstandverhouding.
Derius Kruger, wat in 2015 in die sewende reeks van Boer soek ’n vrou was, is ’n wild- en besproeiingsboer naby Hopetown in die Noord-Kaap. Hy het kykers se harte al vroeg in die reeks gesteel toe hy dit skaars oor sy hart kon kry om vyf uit die tien briefskrywers ná die eerste ontmoeting huis toe te stuur.
Ons wou die paartjie beter leer ken en het ’n paar vrae aan hulle gestuur. Hul antwoorde is so wys en vol pittige woorde vir mekaar dat ons skoon verlief is op húlle twee saam!
Vertel ons eers hoe julle paaie gekruis het? Melanie, het jy geweet Derius was op Boer soek ’n vrou?
Melanie: Ja, ek was bewus van Derius wat op Boer soek ’n vrou was en het dit altyd so met die een oog dopgehou. Ek het so skelm-skelm meer begin oplet wanneer hy op die televisieskerm is, verál wanneer hy so lekker gelag het. Al het ek nie vir hom ’n brief geskryf nie, het ek so ses maande ná die reeks moed bymekaar geskraap en uit nuuskierigheid vir hom ’n invite op Facebook gestuur. Aanvanklik het ek eers net vergeet daarvan, tot een aand. Ek glo glad nie in toeval nie, maar wat is die kans dat Derius wat in die Karoo sit en ek hier in Pretoria op “presies” dieselfde tyd vir mekaar ’n boodskap stuur? Ná ’n paar WhatsApp voice notes en lang telefoonoproepe is die res geskiedenis.
Derius: Boer soek ’n vrou het definitief ’n aandeel hierin gehad, want dit is waar Melanie my raakgesien het. Min het ek geweet watter juweel van ’n mens kruip daar in Pretoria weg. In April 2016 het Melanie die kans gevat en vir my ’n friend request op Facebook gestuur. Teen daai tyd was ek taamlik moeg vir al die vreemde versoeke, boodskappe en friend requests op sosiale media. Nogtans het iets van Melanie my heeltyd laat terugkeer na haar versoek. Op 22 Augustus 2016, op my verjaardag, het sy vir my ’n boodskap gestuur en daarna het ek haar request aanvaar. My nuuskierigheid het die oorhand gekry. Dit het my steeds drie maande geneem voordat ek die eerste boodskap vir haar gestuur het. Ek was effens skaam oor wat sy gaan dink as ek uit die bloute met haar begin gesels. Kyk, toe ons eers begin gesels, was daar geen einde nie!
Derius, dit is al ’n hele ruk gelede, maar is daar nog mense wat vir julle stop en vra oor Boer soek ’n vrou?
Hahaha, kyk dit gebeur nog gereeld dat mense my stop en uitvra oor die program, vra vir ’n foto saam, en dan natuurlik opinies lewer oor mense wat deel was van die reeks.
Ek wil graag byvoeg dat Boer soek ’n vrou ’n mens baie meer ontvanklik maak om kanse te waag. Dinge werk nie altyd uit vir die boere in die reeks nie, maar dit gebeur selde dat die boere nog single bly ná die reeks. Alhoewel mens graag wil hê dinge moet werk in die reeks, moet ’n mens ook realisties wees.
Die dames en boere ken tog hulleself, so ’n mens weet of ’n vriendskap sal werk of nie. Dit is waar die publiek soms die boere onnodig kruisig sonder om in ag te neem wat werklik in die boere en dames se harte aangaan. Geen deelnemer aan die reeks sal hulle verniet blootstel aan al die emosies, verwagtinge en kritiek wat saam met Boer soek ’n vrou kom as hulle harte nie 110% daarin is nie. Dit was baie intens, maar nogtans ’n ongelooflike ervaring waaroor ek nooit spyt is nie.
Melanie, jy word hierdie vraag seker baie gevra, maar weet jy enigiets van boerdery af? Geniet jy dit om te leer?
Aan my ma se kant was en is almal tot vandag toe nog boere. Daar was nie een vakansie waarin ek nie tyd op die plaas spandeer het nie. Tot vandag toe gaan kuier ek gereeld by my niggie – en dan moet daar gehelp word as ’n koei sukkel om te kalf, om op te let watter koeie soek bul, beeste moet aangejaag word en natuurlik moet iemand die hekke oopmaak. Ek was dus al van kleintyd af bewus van hoe boere redeneer, hoe hulle dinge op ’n sekere manier doen en sê en reageer in sekere situasies. Ek het selfs begrip vir hulle oulike sin vir humor.
Ek is baie gewillig en nuuskierig om te leer en gelukkig gee Derius nie om om te verduidelik nie. Maar soms vra ek ook dom vrae. Dan antwoord hy:
“Nee kyk, dis nou weer tyd vir ’n Landbou 101-sessie.”
Ek het gou agtergekom dat mens nog nie ’n sonsondergang gesien het as jy nog nie die Karoo s’n gesien het nie. Dis onbeskryflik mooi. Die rustigheid op die plaas laat mens ook bietjie meer vrae vra vir jouself.

FOTO Verskaf
Hoe maak julle jul langafstandverhouding werk? Watter raad kan julle deel?
Melanie: ’n Langafstandverhouding is nie maklik nie en kom met ’n klomp uitdagings. Maar wanneer al twee die verhouding graag wíl laat werk, is dit sommer klaar makliker. Hy is ’n boer wat planne maak en ek is ’n ingenieur wat oplossings vir probleme soek – so saam glo ek is ons ’n goeie kombinasie wat ’n weg sal vind rondom die lang afstand. Die situasies verskil wanneer ons mekaar sien. Wanneer ons saam na troues toe gaan, dan probeer ons dit ’n langnaweek maak. Dan kry ons tyd alleen en mens kan lekker kuier saam met vriende. ’n Wen-wen-situasie!
O, en vermy dit om vliegtuigkaartjies op nommer 99 te koop!
Derius: Met ’n langafstandverhouding is kommunikasie seker die belangrikste. Praat oor alles en maak oop. Moet ook nooit opkrop nie, want dit skep twyfel en twyfel is toksies vir enige verhouding. Verder is respek vir mekaar asook begrip vir mekaar se werksomstandighede baie belangrik. Ek glo enige verhouding kan werk as die fondamente reg is, God, man en vrou. Psalm 127 vers 1: As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. Ons probeer ’n goeie balans hou tussen kwaliteit-tyd saam met mekaar en om ook tyd saam met vriende te spandeer. Ek sal sê 70/30.
Wat geniet julle om saam te doen? En wat doen julle saam al is dit nie vir al twee ewe lekker nie?
Melanie: Derius is mal oor enige adrenalien-aktiwiteite. Ek is weer die versigtige een, maar kan glad nie nee sê vir ’n avontuur nie en is nou maar ’n bok vir sports. Net om ’n goeie balans te handhaaf sal ek hom so nou en dan saam met my fliek toe sleep.
Derius: Ons is albei avontuurlustige mense, so enigiets in die natuur waar adrenalien betrokke is, doen ons (al kort Melanie soms bietjie aanmoediging). Op my lysie is om Melanie te vat om haar duiklisensie te gaan doen. Skubaduik is ALS. Ons is ook baie lief vir uiteet, so as ons ’n kans het soek ons ’n goeie restaurant op.
“ONS LAG VERSKRIKLIK BAIE SAAM!!!!!”

FOTO Verskaf
Derius, was die tyd ná die program moeilik? En wat het jy van jouself geleer in daardie tyd?
Dit was nie moeilik nie, alhoewel ek baie graag daai regte een wou ontmoet. Ek is maar ’n ongeduldige mens en die eensaamheid het my soms gevang. Geen mens is bedoel om alleen te wees nie en mens het altyd daai behoefte om die dieper dinge van die lewe met jou sielsmaat te deel.
Wat ek op Boer soek ’n vrou geleer het, is om nie te probeer om altyd in beheer van ’n situasie te probeer wees nie, ’n mens moet soms net bietjie laat gaan. Ek broei nie op ’n ding nie, so as ek seker is van wat ek wil hê en moet doen, doen ek dit.
Het julle enige verhoudingsraad wat julle kan deel?
Melanie: Wees eerlik en opreg teenoor mekaar en los die kat-en muisspeletjies wat mense so geneig is om met mekaar te speel. Dit is ook belangrik om gemaklik met mekaar te wees sodat daar ’n balans kan wees tussen ernstige tye en lawwe tye. Vir my is dit belangrik dat albei se geloof en siening van die lewe moet ooreenstem en mekaar aanvul.
Derius: Die basiese fondamente van enige verhouding is dieselfde: kommunikasie, respek vir mekaar, onvoorwaardelike liefde vir mekaar en aanvaarding van mekaar se foute. Sit die ander persoon altyd eerste – bo jou eie behoeftes.
Lees nou
Steeds verlief, sê boer Hennie en Jacobu
’n Selfoonkontrak en apps vir jou langafstandverhouding!
The post Onthou jy boer Derius? Hy’s verlief! appeared first on SARIE.