Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Eerste kyk: Donnalee en Ivan se nuwe fliek

$
0
0

Vir die afgelope paar jaar was die Afrikaanse akteurs en kreatiewe vennote Ivan Botha en Donnalee Roberts die goue paartjie van die silwerskerm. Hul films Pad na jou hart en Vir Altyd is lokettreffers.

Nou is hulle terug met hul derde fliek, Stroomop, wat afspeel op die Oranjerivier in die Noord-Kaap. Dié rolprent, ook uit die pen van Donnalee en Ivan, volg vyf uiteenlopende vroue wat kop bo water probeer hou. Stroomop word vandag presies oor ’n jaar, op Vrouedag, 9 Augustus 2018 in teaters landswyd uitgereik.

Dié keer is Ivan en Donnalee nie meer saam voor die kamera nie. Die span verwelkom die bekroonde Tom Marais as kinematograaf en Ivan maak sy debuut as regisseur. Vir die geliefde blou-oog, blondekop is dit ’n uitdaging waarna hy uitsien:

“Soms moet ons met die stroom van die lewe vloei en soms moet ons stroomop roei om by ons lewensdoel uit te kom, dit is presies wat vir ons as ‘n span voorlê met hierdie avontuur. Wat ’n voorreg om aan stuur van Stroomop te kan wees, of sal ek sê die gids te wees. Ek sien uit om elke een van die karakters te ontmoet en om geduldig en met soveel respek hulle stories te help vertel.”

Alle bekende waters gaan darem nie verlaat word nie, want Donnalee sal die hoofrol vertolk. Haar karakter en vier ander dames gaan kykers op ’n opwindende avontuur neem. Hulle gaan saam moet veg teen trane, woede, vrese, pyn en om oorlewing tydens ’n “river rafting experience” op die Oranjerivier.

Roberts het al talle films gemaak en rolle vertolk, maar hierdie projek is vir haar ’n nuwe uitdaging:

“Hierdie vroue se storie móét vertel word!! Stroomop gaan ons uitdagendste projek nóg wees. Dit laat my maag draai en my hart vinniger klop, maar ek is reg vir hierdie uitdaging, reg om dit vierkantig in die oë te kyk, my roeispane te gryp en die diep donker rowwe waters emosioneel en fisies aan te pak.”

Botha en Roberts het ’n spesiale video opgeneem op die “stel” van Stroomop tydens hulle eerste produksiebesoek aan die Oranjerivier:

Stroomop word op 9 Augustus 2018 landswyd deur Ster-Kinekor, Nu-Metro en onafhanklike teaters uitgereik en word Februarie en Maart 2018 in Johannesburg en Onseepkans in die Noord-Kaap verfilm.

Lesers kan gerus Stroomop se Facebook-blad, Twitter (@stroomopfilm) en Instagram (StroomopFilm) volg om op hoogte te bly oor die film.

The post Eerste kyk: Donnalee en Ivan se nuwe fliek appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294