“Vroue kan als hê, net nie op dieselfde tyd nie.” Dis die een ding wat sy kan doen, toneelspeel. Só sê Jana Kruger wat weer in September in die jongste reeks van Erfsondes te sien is. En ja, daar was ook haar rol in Die Boekklub, maar tyd het anders besluit …
2017 het met groot planne vir aktrise Jana Kruger afgeskop. Nog ’n reeks van Erfsondes, waarin sy die hoofrol vertolk, was om die draai. En sy was opgewonde oor haar nuwe rol in die tweede reeks van Die Boekklub, wat verlede jaar een van SA se gewildste reekse op kykNET was. Toe die nuus: sy’s swanger, onverwags. Sonder dat sy dit beplan het, het die natuur haar vir eers op ’n ander pad gedwing.
Maar Jana het nog altyd geglo dinge gebeur soos dit moet. En elke kind kom op die regte tyd, ook die baba wat sy nou verwag. “Ons het hulle nie beplan nie, maar kinders is ’n geskenk en ‘gebeur’ op spesifieke tye en om bepaalde redes,” sê sy, rustig en onverstoord met haar koppie kruietee en ’n stuk sjokoladekoek in ’n seegroen gebreide rok, grys band om die kop en ’n gesonde blos op die wange – 23 weke swanger ten tyde van die onderhoud. Die baba word einde September verwag. Jana is nie spyt dat sy ’n rol in Die Boekklub 2 moes verbeur nie. Selfs al sou dit vir haar ’n eerste in dié reeks wees. “Ek sal weer ’n geleentheid kry. Om daaroor te tob is beslis nie hoe ek verkies om my energie te vermors nie.”

FOTO Leana Clunies-Ross
Maar oor haar rol as Kate Ferreira, in die sesde seisoen van die SABC2-reeks Erfsondes, uit die pen van Henriëtta Gryffenberg, is sy baie dankbaar. “Dit was ’n goeie reis. Ek en Kate – en Henriëtta – kom al so ’n lang pad. Dit is ongelooflik om saam met haar te werk. Sy is so talentvol en kreatief. Haar intriges werk net. En wat ’n gemaklike mens! Dit is ook ’n heerlike span. Van hulle werk al sedert die eerste seisoen daarop. Die nuwe reeks het ook baie om die lyf. Onthou, die kinders [in die reeks] is nou al groot . . . daar is allerlei dinge soos leënessindroom, kinders wat studeer . . . Ek kon nie glo dat Henriëtta nog nuwe goed kon uitdink nie.”
Dit was nietemin nie ’n maklike tyd vir haar nie. Van einde Februarie tot begin April, in die eerste trimester van haar swangerskap, het sy vier dae per week opgevlieg om te gaan skiet in Johannesburg, sodat sy naweke by haar gesin kon wees.
“Ohan (7) en Luka (5) is nog klein en het my baie nodig.” En sy glo dit is belangrik om haar man, Hannes, ’n sakeman en sielkundige, te onderskraag met hul kinders se opvoeding. “Ek was naar tydens die verfilming van die reeks. Soms dalk ’n monster. Dit was partykeer vir my moeilik om vrolik te wees as ek so ellendig gevoel het,” lag sy nou.
Vanjaar, vir die eerste keer in vyftien jaar, het sy ook op die verhoog verskyn, in Vrou uit die see, ’n klassieke vertaalde stuk van die Noorweegse dramaturg Henrik Ibsen. “Henry Milne is ’n passievolle regisseur. Gesoute akteurs soos Neels van Jaarsveld, Amalia Uys, Eric Holm, Theodore Jantjies, Kaz McFadden en Natasha Dryden het dit ’n baie lekker ondervinding gemaak. Hopelik kan ek in die toekoms meer op die verhoog werk.”

FOTO Leana Clunies-Ross
Maar nou is haar fokus eers op haar gesin. “En as dit só moet wees vir die volgende tien jaar, is dit ook goed. Die tyd wat jou kinders klein is, is kort. As ek heeldag kla omdat ek nie nou kan werk nie, is ek besig om myself én hulle ’n onreg aan te doen. Ek gebruik eerder ons tyd om hulle te leer om die uitdagings van die lewe – eendag – so goed as moontlik te hanteer. Want ons almal weet daar is oorgenoeg: teleurstelling, verwerping, mislukking.”
Sy het ook besluit om van nou af as aktrise haar getroude van te gebruik, nadat Ohan gevra het hoekom haar van (Strydom) nie dieselfde as hulle s’n is nie. Sy is trots daarop om ’n vrou te wees. “Ons het nie noodwendig ’n moeiliker taak as mans nie. Ek hou nie van vergelykings nie. Maar ons lyf is die vaartuie waardeur ons ons kinders se siel in die driedimensionele wêreld instuur. En dit is ’n groot verantwoordelikheid. “Danksy my kinders het ek ’n reuse-metamorfose ondergaan. Ek is nie so selfsugtig soos wat ek vroeër was nie.”
Jana se Instagram foto’s:
Lees die volledige onderhoud in SARIE se Augustus 2017-uitgawe, aanlyn hier te koop.
The post Jana Kruger: “Vroue kan als hê” appeared first on SARIE.