Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Silwerskermfees: ‘Afrikaans is wie ek is’

$
0
0

Die aktrise Mila Guy is in nie minder nie as drie rolprente te sien by die sewende kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad: Liewe KersfeesvaderWonderlus asook die kortfilm Vlugtig.

“Ek is mal oor my karakter, Nonnie, in Liewe Kersfeesvader. Dit gaan oor ’n moeilike pa-dogter-verhouding. Ek self het ’n baie goeie verhouding met my pa.”

Haar ingenieurpa, Johan, ma Belinda, ’n onderwyseres, en suster, Maro, woon in Nieu-Seeland. Mila het vyf jaar gelede, ná vyf jaar in die vreemde, na Suid-Afrika teruggekeer om hier te kom studeer. Sy het haar dramagraad aan Tukkies behaal.

“Ek love Suid-Afrika. Die mense, my taal, die mooi natuurskoon. Maar dit was baie lekker om so veilig oorsee te voel.”

Mila, wat ook in Hotel en Ballade vir ’n Enkeling te sien was, sê haar rol in Wonderlus was ’n voorreg. “Ek vertolk die karakter ‘bruid’. Sy is ’n naamlose karakter. Ek het nog nooit eintlik ’n groot behoefte gehad om te trou nie, hoewel ek nie daarteen is nie. Dit gaan oor liefde en ’n troue en die oggend daarna wanneer almal wakker word. Dit is komies.”

FOTO Facebook / Mila Guy

Mila het ’n spesiale vriend, ’n mediese dokter. “Gelukkig het hy begrip vir my beroep en is hy baie ondersteunend.” Meer wil sy nie verklap nie.

Sy geniet toneelspeel omdat dit haar kans gee om in verskillende karakters te klim en hul lewe te beleef op ’n manier wat sy nie andersins sou kon nie. Sy bewonder die plaaslike aktrise Rolanda Marais (“Sy wórd letterlik elke karakter wat sy vertolk”) en die Amerikaanse aktrise Shailene Woodley van Big Little Lies-faam. “Sy is so jonk en talentvol. En dít motiveer my.”

Sy wil die res van haar lewe toneelspeel – of dit in sepies, TV-reekse of rolprente is. “Ek wil aanhou groei.” En sy wil reis. Elke jaar. “Ek was al in Australië, Bangkok, Amsterdam en Parys. Nou staan my kop Afrika-lande toe – Lesotho, ag, enige plek wat nuut is.” Sy glo die ontdekking van nuwe kulture laat jou met ander oë na die lewe kyk. Vir haar is geluk rustigheid.

FOTO Facebook / Mila Guy

En wat is haar gunsteling-woorde in Afrikaans?

“Pantoffel en bollemakiesie. Afrikaans is wie ek is. Selfs in Nieu-Seeland het ek net Afrikaans met my ouers gepraat.”

Kyk die lokprente van Wonderlus en Liewe Kersfeesvader hiér:

 

The post Silwerskermfees: ‘Afrikaans is wie ek is’ appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294