Quantcast
Channel: Bekendes – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Elize Cawood se dogter, Jenna, is eerlik oor haarself

$
0
0

Jenna Dunster, die 30-jarige dogter van die gesoute akteurspaar Elize Cawood en Wilson Dunster, is baie opgewonde oor Skoon, die kortfilm oor obsessief-kompulsiewe stoornis waarin sy en haar goeie vriend Pascual Wakefield by die sewende kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, te sien is. 

Dié neurose manifesteer soms in meer as net handewas of om blokkies op vloere te tel. “Louis (Pascual) is ’n mondhigiënis met ’n obsessie oor higiëne, maar die ironie is in die proses maak hy alles vuil,” vertel Jenna. Háár karakter, Anchen, is jonk en ligsinnig. “Dit was baie harde werk om voor te berei vir die rol,” vertel sy. 

Sy moes onder meer vir vroue vra hoe hulle sou voel as hulle een oggend kaal wakker word en niks kan onthou van die vorige nag nie. “Sou hulle wonder of hulle verkrag is, wat sou deur hul kop aan? Die meeste vroue het geantwoord of hulle verkrag is of nie, hulle sal voel of hulle verkrag is.” Om dit uit te beeld was nie grappies nie.

Op dertig is sy baie eerlik oor die lewe. Haar lewe lyk elke jaar anders, maar sy is trots dat sy nie bang is vir verandering nie. “Soms is ek by El Burro in Seepunt kelnerin saam met ’n ongelooflike groep vroue – om my inkomste aan te vul. Ek is ook baie geïnteresseerd in Montessori-onderrigmetodes en oorweeg ’n kursus daarin. Ek het al uitgehelp by ’n kleuterskool en is mal daaroor.”

FOTO Phyllis Green

In 2016 het sy haar leefstyl verander en van Johannesburg na die Kaap toe getrek. “Dit was ’n nuwe begin. Ek het meer rustigheid, glo in meditasie, joga en spiritualiteit.”

Sy het hope Afrikaanse vriende in die Kaap leer ken en is mal oor Afrikaans. “As dit nie vir Afrikaans was nie, kon my loopbaan nie vorder nie. Ek was ook al so baie verlief in Afrikaans. My grootste liefde was in Afrikaans.”

Haar gunstelingwoord is “geniepsig”. En, vertel sy, sy het jare lank die woord “weerstaan” verkeerd gebruik. Sy het gedink dit beteken “uitstaan”. “Ek sou sê: ‘Ek kan daardie nare mens nie weerstaan nie,'” lag sy. En niemand het haar reggehelp nie.

Jenna het by haar ouers geleer jy moet eerlikheid bring na elke karakter. “Jy moet jou karakters goed verstaan. En goeie etiket is so belangrik in ons bedryf. Daar is soveel massiewe ego’s. Ek daag altyd 15 minute op voor ons begin repeteer of optree. Om betyds te wees is belangrik. En ek berei goed voor. Jy moet die stuk wat jy opvoer, respekteer – die skrywer, regisseurs, vervaardigers. Dit gaan oor spanwerk.”

In die toekoms wil sy graag gereeld kortfilms maak. “Ek was nog nooit materialisties nie en wil dit nie doen om geld te maak nie, maar om te leer en te eksperimenteer.”

Sy het twee jaar gelede ’n film van sewe minute lank, Dearest Elle, gemaak. “Dit gaan oor ’n eensame vrou wat ’n crush ontwikkel op die woonsteleienaar wat elke Donderdag die perseel besoek. Sy probeer haarself heelweek moed inpraat om met hom te gaan praat, maar kry dit nie reg nie. Daar is geen dialoog in die fliek nie. Dit is ’n ongelooflike leerproses en ek geniet dit.”

 

The post Elize Cawood se dogter, Jenna, is eerlik oor haarself appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 2294

Trending Articles


7 voordele van boegoe


Die beste tyd van my lewe


5 goed wat jy vir jou haarkapper moet sê vóórdat hy jou hare sny


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


8 Wenke om water te bespaar


Rita (JM) Gilfillan (1941–)


Graad 8-Afrikaans Huistaal: vraestelle en memoranda


Ek is oppad #Hermanus toe !!


Drie stappe: Kikker jou kaste op


Te koop: Bosweg 3, Eastermar