Sy het 13 jaar gewag om haar droom waar te maak: Om musiek te maak en uit die hart te sing. “Ek het naderhand gedink dit gaan dalk nooit gebeur nie, maar ek kon net nie opgee nie.” Vandag deel The Voice-ster Caroline-Grace Brüssow haar eerste enkelsnit en musiekvideo, “Ek bid vir jou”.
En hoe voel sy?
“Bevoorreg, opgewonde en trots Suid-Afrikaans. Nou kan ek uiteindelik my passie en liefde vir musiek uitleef en ’n verskil maak.”

FOTO Instagram / @carolinebrussow
Die pragtige blondekop se stem het gesorg dat sy vroeër vanjaar in die top-4 van The Voice SA geëindig het. Met haar blinde oudisie vir die tweede seisoen van dié gewilde werklikheidsangkompetisie op M-Net het net een beoordelaar, Bobby van Jaarsveld, omgedraai.
“Jy voel ’n warboel van emosies. Jou selfvertroue kry ’n knou, want jy vra dadelik vir jouself hoekom niemand omdraai nie – is jy nie goed genoeg nie? Ek het maar net aanhou sing. Ek het geweet as ek daai hoë noot in die liedjie slaan, sal iemand omdraai. Ek het so bietjie in my kop gebid ook, maar gefokus gebly en aanhou sing.”
Caroline-Grace, wat met die Springbok-rugbyspeler Heinrich Brüssow getroud is, het nog altyd hard gewerk vir hierdie droom.
“Natuurlik weet mens nie hoe jou lewe gaan verloop nie, maar een ding is seker: Met harde werk, hoop en vertroue sal jy bo uitkom.”

FOTO Instagram / @carolinebrussow
Heinrich, wat op die oomblik vir Docomo Red Hurricanes in Japan speel, het onlangs laat weet hy gaan nie sy kontrak met die klub hernu nie. Ter wille van Caroline-Grace se sangloopbaan wil hy eerder in Suid-Afrika of Engeland speel, volgens Netwerk24.
Vir die paartjie, wat al sedert 2013 getroud is, is dit belangrik om mekaar se drome én loopbane te ondersteun.
“Dit wys dat julle mekaar respekteer en erken. Om mekaar te ondersteun voeg ongelooflike waarde aan ’n huwelik toe en laat dit blom.”
Haar raad vir pasgetroudes?
“Wees lief vir mekaar en spandeer apart tyd saam met God, vestig julself in Sy Woord en hou aan bid. Julle gaan getoets word en as julle wortels sterk is, kan julle enige storm aanpak.”
Caroline-Grace pas altyd dié lewensles toe:
“Niks kom vanself nie en niks val net in jou skoot nie. Jy moet jou kant bring, opofferings maak, almal met respek hanteer en, belangrikste van als, altyd dankbaar wees.”
Hier’s die musiekvideo vir Caroline-Grace se eerste enkelsnit, “Ek bid vir jou”:
The post EKSKLUSIEF: Caroline-Grace se musiekvideo appeared first on SARIE.