Modder en Bloed vertel die verhaal van Willem Morkel vertolk deur Stian Bam, ’n Boerekryger en familieman, wat se vrou en enigste kind gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor word. Willem word saam met ander Boere-krygsgevangenes, op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou. Die Engelse konsentrasiekamp staan onder die tirannieke beheer van Kolonel Swannell, gespeel deur Grant Swanby, ’n vuurvreter imperialis met ’n onblusbare haat teenoor die Afrikaners.
Boere-krygsgevangens word aan brutale geweld en onderdrukking onderwerp. Hulle word voortdurend deur die Britse bevelvoerder en sy soldate verneder in pogings om hulle emosioneel te knak, maar, ten spyte daarvan word hul weerstand en soeke na vergelding net elke dag sterker. Met die bystand van sy mede-gevangenes aanvaar Willem ’n uitdaging wat uiteindelik sou lei tot soete wraak in die belangrikste rugbywedstryd van hul lewens.
Die fliek spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat beide Suid-Afrikaanse en Britse rolprentpersoonlikhede insluit.
Van die bekende plaaslike sterre wat te sien sal wees is Bok van Blerk, Albert Maritz, Michael Richard, Edwin van der Walt, Jacques Bessenger, Altus Theart, Albert Pretorius en Deon Lotz.
Die Britste rolverdeling sluit Charlotte Salt (Beowulf/The Tudors), Patrick Connolly (Inferno/Crushed), Nick Cornwall (Blood Loyal/Retribution) en Josh Myers (The Sweeney/Anti-Social) in.
’n Nota van Sean Else die regisseur
“Handré Griessel het my gewaarsku: ‘Sean. Worcester-winters is rof; die wind waai woes, dis yskoud, en dit reën aanhoudend.’ Maar ek wou nie luister nie; inteendeel, ek het gevoel sulke weer sou perfek wees vir ‘n epiese periode-film wat afspeel op die krygsgevangene-eiland van St. Helena gedurende die Anglo-Boereoorlog in 1901. En dit wás ook so: die wind, die sand, die reën, die mis en die koue gedurende die lang, stormagtige aande het ‘n getrouheid en werklikheid aan die film verleen wat geld nie sou kon koop nie …. dit wás rof, baie rof! Maar dit was ‘n ondervinding wat ‘n ongelooflike span mense van regoor die wêreld, voor en agter die kamera, met elke uitdaging net nader aan mekaar en aan die projek gebring het. Daarbenewens het Handré, sy vrou Esther, hul ouers en kinders, en inderdaad elke persoon in die Worcester-gemeenskap agteroor gebuig om die onmoontlike moontlik te maak. Ek weet nie waar begin ‘n mens om dankie te sê vir alles en almal wat deurgedruk het tot met die laaste kameraskoot nie. Ek kan net sê dat ek ontsettend trots is op die hele span en die film wat ons almal saam geskep en ‘n werklikheid laat word het. Ek kan nie wag om hierdie storie met die hele wêreld te deel nie.”
MODDER EN BLOED word uitgereik in samewerking met kykNET Films en die DTI. Die fliek word op 1 April 2016 plaaslik vrygestel en word deur Ster Kinekor Entertainment versprei.
The post FOTO’S: Nuwe Afrikaanse fliek oor die Boereoorlog op pad appeared first on SARIE.