Die rooikop-prins van Engeland, prins Harry, het gister ’n enkele dag in die VSA deurgebring om die Invictus-spele van 2016 te bemark, berig Hello!.
Harry se dag het afgeskop toe hy beseerde soldate in Virginië ontmoet en bemoedig het. Die presidentsvrou, Michelle Obama, en die adjunk-president, Jo Biden, se vrou, dr. Jill Biden, was ook teenwoordig. Hulle het saam na ’n Paralimpiese basketbal-wedstryd gekyk.
Harry het in ’n toespraak gesê die diens wat hy in Afganistan as deel van die Britse weermag gedoen het, het sy lewe in ’n ander rigting gestuur. Hy wil alle oorlogveterane help om gesonde en gevestigde lewens te lei ná hul weermagdiens. Harry poog ook om die “onsigbare beserings” wat in oorloë opgedoen word, soos post-traumatiese stres, aan te spreek.
Hy het gistermiddag besoek afgelê by president Barack Obama by die Withuis en hy het ook die Britse ambassadeur ontmoet.
Harry moes hom terug na Engeland haas vir die eindstryd van die Rugbywêreldbeker-toernooi wat Saterdag in Londen plaasvind. Daar word bespiegel dat hy die Web Ellis-trofee aan die wenspan gaan oorhandig.
Die Invictus-spele is in 2014 deur prins Harry begin om gewonde soldate en oorlogveterane te motiveer en aan te spoor om aktief te bly. Dit was ’n reuse-sukses in Engeland en sal volgende jaar in die VSA aangebied word.
Lees ook
- Prins Harry drink tee saam met Michelle Obama
- FOTO’S: Só ondersteun Prins William en Harry die rugby
- Prins Harry veg teen stropers in Krugerwildtuin
The post FOTO’S: Prins Harry kuier by Barack en Michelle Obama appeared first on SARIE.