Ons het pas gehoor die gewilde Afrikaanse sanger Joshua na die Reën sal die temalied van Donnalee Roberts en Ivan Botha se nuwe fliek, Vir Altyd, sing.
Die liedjie word 13 November uitgereik. Luister solank na ’n voorsmakie HIER .
Vir Altyd se lokprent is verlede maand bekend gestel en dit is binne 10 dae reeds meer as 40 000 keer gekyk!
Vir Altyd beloof om die grootste avontuur van die jaar te wees wanneer dit in 2016 in teaters begin draai.
Die rolprent gaan oor Nina (Donnalee) en Hugo (Ivan) wat as kinders beste maats was en ná baie jare weer ontmoet wanneer Hugo, ’n reisfotograaf, terugkeer na sy ouerhuis in die Paarl, onwetend dat Nina die volgende dag trou.
Onverwags word Hugo deel van Nina se groot dag, maar wanneer Nina se verloofde nie die groot stap kan neem nie, besluit sy om steeds haar gaste te onthaal en hou hulle lekker partytjie – met baie sjampanje.
Toe sy weer sien, sit sy en Hugo op ’n vliegtuig op pad Mauritius toe, die tropiese eiland van liefde …
Met ’n uitstekende rolverdeling, prentjiemooi stelle en romantiese avonture sien ons baie uit na dié fliek!
Vir Altyd sal op 12 Februarie 2016 landwyd begin draai en SARIE is ’n trotse mediavennoot.
Lees ook
- Vir Altyd se lokprent
- Donnalee en Ivan deel die storie agter ‘Vir Altyd’
- Vir Altyd: Ontmoet die karakters
- Blog: Agter die skerms op Vir Altyd se stel
The post Joshua na die Reën sing ‘Vir Altyd’ se temalied! Hier is ’n voorsmakie appeared first on SARIE.